'n Familielid van een van die vermiste passasiers.

Maleisiese owerhede het die soektog na ’n vermiste passasiersvliegtuig uitgebrei.

Volgens Malaysia Airlines soek hulle nou tot by die Malacca-seestraat, ver van die laaste bevestigde ligging. Die ondersoek kon tot dusver nog geen antwoorde lewer nie.

Die vliegtuig het vroeg Saterdag oor die see tussen Maleisië en Viëtnam vermis geraak. Dit was van Kuala Lumpur onderweg na Beijing. Tog is daar nog geen wrakstukke in die water tussen Maleisië en Vietnam gevind nie, al het meer as 40 vliegtuie en skepe van minstens 10 lande dit deursoek.

Die vliegtuig met sy 239 passasiers het ná minder as ’n uur van die radar af verdwyn – sonder om ’n noodsein te stuur. Owerhede vermoed dat die vliegtuig dalk wou omdraai, maar was verbaas dat dit sou omdraai sonder om lugverkeerbeheer in kennis te stel.

Die lugredery het in ’n verklaring gesê soek-en-reddingspanne het hul soektog na die Malacca-seestraat uitgebrei. Dit is geleë tussen Maleisië se weskus en die Indonesiese eiland Sumatra. Hulle soek dus nou aan die ander kus van Maleisië as die vliegtuig se laaste bevestigde ligging.

Om die seestraat te bereik moes die vliegtuig oor die land gevlieg het, en vermoedelik binne die radar se bereik.

Die lugredery het vroeër in ’n verklaring gesê Maleisië se weskus is “nou die fokuspunt”, maar sedertdien het hulle verklaar dié stelling was ’n fout. Hulle het nie daarop uitgebrei nie. Azharuddin Abdul Rahman, die lugvaarthoof, het gesê hulle soek nou “aan albei kante” van die land.

Owerhede het ook Dinsdag bekendgemaak dat twee Irannese met gesteelde paspoorte en kaartjies van Europa aan boord gegaan het. Hierdie inligting het gissinge oor moontlike terreuraktiwiteite laat opvlam.

Die Maleisiese polisiehoof, Khalid Abu Bakar, het gesê ondersoekers het vasgestel een van die twee Iranse passasiers, Poeria Noermohammadi Mehrdad, was ’n 19-jarige man wat moontlik Duitsland toe wou verhuis.

“Ons het nie rede om te glo dat hy lid van ’n terroristegroep is nie,” het Khalid gesê.

Interpol het vasgestel die tweede Iranse passasier is Seyed Mohammed Reza Delavar (29), en het ’n foto uitgereik van die twee wat gelyk aan boord die vlug gaan. Interpol se sekretaris-generaal, Ronald K. Noble, het gesê die twee het met hul Iranse paspoort Maleisië toe gereis en toe blykbaar daar hul gesteelde paspoort gebruik.

Hy sê bespiegeling oor terrorisme begin nou afneem “nadat dit ál sekerder word dat die twee dalk nie terroriste is nie”. Hy het in ’n pleidooi aan die publiek nog inligting oor die twee gevra.

Die vliegtuig het vroeg Saterdag vertrek van Kuala Lumpur, aan Maleisië se weskus, na Beijing. Dit het teen ’n hoogte van 11 000 m oor Maleisië gevlieg na die Golf van Thailand en het toe van die radar af verdwyn.

Die soektog het Saterdag naby die vliegtuig se laaste bekende ligging begin. Daar is geen wrakstukke gevind nie en die soektog is stelselmatig uitgebrei om gebiede in te sluit wat die vliegtuig kon bereik met die hoeveelheid brandstof wat dit aan boord gehad het. Dit is ’n groot gebied vergeleke met die grootte van die vliegtuig.

Twee derdes van die passasiers aan boord was Chinees, en dié land het Maleisiese owerhede aangespoor om “die soektog te bespoedig”. China het al vier skepe gestuur, en nog vier is op pad.

Gestel die vliegtuig het in die see gestort of in die lug verbrokkel, sal daar steeds wrakstukke in die see dryf. Maar dit kon dalk reeds gesink het of ver weg van die oorspronklike plek gedryf het. Met vorige soortgelyke rampe het dit etlike dae geneem om wrakstukke op te spoor.

Amerika het twee vlootskepe gestuur, waarvan minstens een met helikopters toegerus is, en ’n P-3C Orion-vlootvliegtuig met sensors wat klein wrakstukkies in die water kan opspoor.

Viëtnamese vliegtuie en skepe help ook met die soektog. Lt.genl. Vo Van Toean, die adjunkstafhoof van die Viëtnamese weermag, het gesê owerhede op die grond is ook beveel om na die vliegtuig se soek omdat dit dalk in ’n onbewoonde gebied neergestort het. Militêre eenhede naby die grens met Kambodja en Laos is ook beveel om daardie gebiede te deursoek.

“Ons het tot dusver geen tekens (van die vliegtuig) gevind nie; ons moet dus die soektog uitbrei,” het hy gesê.