Hoewel die wintersonnetjie deesdae landwyd maar skaam is, is daar geen reël wat sê jy mag nie op ’n koue wintersdag ’n heerlike melkskommel geniet nie.

En natuurlik word dit met die liefde verbind. Hoeveel tienerromanses het dan nie êrens om ’n restaurant- of kafeetafel met ’n glas melkskommel begin nie? Romantici beskou dit juis as ’n teken van intimiteit wanneer twee verliefdes elkeen met ’n strooitjie uit een glas drink terwyl hulle diep in mekaar se oë staar . . . 

Die gewilde melkskommel dateer uit die 1880’s, maar toe was dit ’n wilder kalant as nou. Daardie dae is dit gemaak met eiers, room en . . . whisky!

Ná die 1900’s is melkskommels getem en het vanielje-, aarbei- en sjokoladegeure die smaak van whisky vervang. Roomys is ook gebruik pleks van eiers en room. En so is die moderne melkskommel gebore. 

Van die 1930’s af het dit ál gewilder geraak, en teen die 1950’s was dit een van die mees gesogte drankies in Amerika.

Dink net aan al daardie flieks wat in die ruk-en-rol-era van die 1950’s en 1960’s afspeel. In amper elkeen is tonele waar verliefde jong mense met drome in hul oë by ’n padkafee of restaurant ’n melkskommel geniet.

Die lekkerny het tred gehou met die tyd, en vandag kan ’n mens by spesialisrestaurante ’n wye verskeidenheid resepte en smake kry. Hoekom verras jy nie vanaand die een in jou lewe met ’n glas tuisgemaakte melkskommel nie?

Tjorts! 

Hier is drie maklike resepte