Terwyl baie ma’s al aanvaar het hulle sal net tydens hul kraamverlof kan borsvoed, beveel die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) steeds dat ma’s die eerste ses maande eksklusief borsvoed, daarna vaste kos inbring en die baba tot tweejarige ouderdom of ouer borsvoed. Wat doen jy dus as jy steeds wil borsvoed, maar moet terugkeer werk toe?

Anelle Greyling is ’n spesialisverpleegster by die Panorama-borsvoedingkliniek  in Kaapstad en sê om twee jaar te borsvoed is nie vir almal moontlik nie, maar sy probeer ma’s aanmoedig om so lank moontlik soggens, saans en oor naweke te borsvoed en deur die dag melk te pomp.

“Drie of vier maande se borsvoeding kan nie dieselfde beskerming bied as ses maande s’n nie. As jy nie wil pomp nie, kan jy deur die dag formulemelk gee en saans en naweke borsvoed. Maar dit gaan beteken jou baba is vatbaarder vir infeksies, veral as hulle in ’n crèche is. Elke bietjie borsmelk help!”

Party kenners waarsku ook die aanvulling met formulemelk kan jou melkvervaardiging negatief beïnvloed. Wees dus gewaarsku as jy dit oorweeg.

Anelle antwoord van die vrae wat werkende ma’s oor die proses kan hê.

Gaan my melkvervaardiging beïnvloed word as ek terugkeer werk toe?

“Dit gaan beslis beïnvloed word,” sê Anelle. “Een van die eerste dinge wat jou melkvervaardiging gaan beïnvloed, is stres. En as jy by die werk gespanne en gehaas voel, gaan jou vervaardiging daaronder ly. Dit gebeur vinnig; jy kan die vermindering eers ná ’n paar dae agterkom.”

Maar moenie moed verloor nie, Anelle het ’n paar wenke vir ma’s wat dit wil vermy:

  • Pomp baie. Hoe meer melk jy uitdruk, hoe meer gaan jy vervaardig.
  • Ontspan. Probeer in ’n ontspanne ruimte wees wanneer jy dit doen. Dink aan jou baba; dit gaan jou melkvervaardiging aanmoedig.
  • Neem dit op. Anelle stel voor jy maak ’n opname van jou baba se huil wanneer jy melk moet uitdruk.
  • Bly gesond. Drink genoeg vloeistof, eet genoeg en drink ’n natuurlike aanvulling wat melkvervaardiging kan aanhelp. Praat met ’n borsvoedingkonsultant indien nodig.
  • Voer wanneer jy by die huis kom. Daar is niks lekkerder nie as ’n lekker voersessie met jou baba nadat jy die hele dag na hulle verlang het. Dit help jul verhouding en verminder die moontlike skuldgevoelens omdat jy heeldag by die werk is.
  • Hou ’n paar dae se gepompte melk in jou vrieskas wanneer jy weer werk toe gaan. “Die kennis dat dit daar is, gaan jou laat ontspan, wat op sy beurt waarskynlik jou melkvervaardiging gaan aanhelp. Jy kan melk drie tot ses maande in die vrieskas hou.” Klik hier vir nog inligting daaroor.

Wat as daar by die kantoor nie plek is om melk te pomp nie?

“Wees kreatief,” sê Anelle. “Het jou kantoor ’n siekeboeg of ongebruikte stoorkamer? ’n Teekamer, konferensiesaal of selfs ’n privaat kantoor kan werk. As jy onderdak parkeer, kan jy ook in jou motor gaan sit en jouself met ’n borsvoedingsdoek bedek.

Wat as my baas nie daarvan hou nie?

“Ongelukkig kan nie alle werkgewers besef ’n ma wat die tyd neem om melk te pomp minder geneig gaan wees om tuis te bly met ’n siek kind nie, maar moenie dat dit jou keer nie,” sê Anelle. Volgens die indiensnemingswet moet werknemers in die ses maande ná hul baba se geboorte tyd deur die dag kry om hul borsmelk te pomp.

Hoe bêre ek die melk as ek nie ’n yskas by die werk het nie?

“Jy het nie ’n yskas nodig nie; ’n koelhouer met ’n blok ys is meer as genoeg. Borsmelk kan tot agt uur by kamertemperatuur gehou word.”

- Dalena Theron 

Volg ons gerus op Facebook en Twitter en kom speld saam op Pinterest.