Die Raad het in 'n aanvanklike verklaring gesê prof Tim Noakes is "skuldig bevind aan onprofessionele gedrag nadat hy onkonvensionele advies oor borsvoeding in die sosiale media voorsien het wat nie in ooreenstemming is met die norme en standaarde vir sy beroep  nie".

Ná groot verwarring en besware deur onder andere prof Noakes se regsverteenwoordiger, het die raad egter gou die verklaring teruggetrek en 'n gekorrigeerde weergawe uitgereik.

Daarin word gesê hy het bloot "nou getuienis gelewer en al sy getuies ter verdediging geroep", en dat die klaer se regspan hom en sy getuies onder kruisverhoor geneem het. Die slotbetoë sal nou op 4 en 5 April 2017 plaasvind en ’n beslissing op 21 April volgende jaar gemaak  word, verklaar die raad.

Prof Noakes het in 2015 groot opspraak gewek toe hy op Twitter ’n ma aangemoedig het om haar baba ’n lae koolhidraat-hoë vet-dieet (LKHV) te laat volg.

Claire Julsing-Strydom, voormalige president van die vereniging vir dieetkunde (Adsa), het hom namens Adsa by die raad verkla.

Hy het egter volgehou ’n mens kan kinders op 'n LKHV-dieet speen en dat hy sy aansprake wetenskaplik kan regverdig.

Bronne:HPCSA, News24