Die Futurelife-dieetkundige Lara De Santana en FeedingMinds.org deel wenke oor voeding vir verwagtende en borsvoedende vroue:

Voeding voor swangerskap

Sekere mikrovoedingstowwe, veral yster en folaat, het ’n uitwerking op swangerskap; dit is al verskeie kere bewys. Party waarnemingstudies wil voorstel dat die gebruik van vitamiene met mikrovoedingstowwe (voor en tydens swangerskap) verband hou met die verlaging van die risiko vir aangebore defekte, voortydige geboorte, lae geboortegewig en pre-eklampsie. Die rede waarom genoegsame folaat voor swangerskap aanbeveel word, is sodat die liggaam van die aanvang van die fetus se ontwikkeling ’n gesonde folaatvlak het.

Voeding tydens swangerskap

Folaat is uiters belangrik vir die ontwikkeling van die neurale buis (in die brein en ruggraat) van die baba. Hierdie ontwikkeling vind in die vroeë fase van swangerskap plaas; dus is voldoende folaatvlakke veral gedurende hierdie tyd belangrik. Dit kom natuurlik in ’n wye verskeidenheid kosse voor veral donkergroen blaargroente. Spinasie, lewer, aspersies en Brusselse spruite tel onder die kosse met die hoogste folaatvlakke. Minstens vyf porsies folaatryke groente en vrugte word per dag aanbeveel. Swanger vroue wat nie met hul dieet genoeg folaat inkry nie, moet liefs kosse eet wat met foliensuur verryk is of foliensuur-aanvullings drink. Spreek altyd ’n dokter voor jy enige aanvullings drink. (Folaat kom natuurlik in kos voor; foliensuur is die sintetiese vorm van die vitamien.)

’n Gebalanseerde dieet is vir almal belangrik, maar swanger vroue moet verseker hul voedingstof-inname is genoeg om aan hul behoeftes sowel as die baba s’n te voldoen.

Hier is ’n uitgesoekte lys voedingstowwe en hulle verwante funksies:

  • Proteïen: Dit speel ’n sleutelrol in die ontwikkeling van nuwe weefsel, selle, bloed en bene.
  • Yster: Hoë vlakke hiervan is tydens swangerskap nodig; dikwels is aanvullings nodig.
  • Jodium: Dit is betrokke by die ontwikkeling van die brein en senuweestelsel.
  • Folaat: Belangrik in die ontwikkeling van die neurale buis.
  • Ander belangrike voedingstowwe: Sink, kalsium, vitamien A en C.