Steek jou eie vrees weg! As jy self bang is vir tandartsbesoeke, kan jou kind dit aanvoel en dalk jou eie gedrag naboots.

Gaan gereeld tandarts toe – elke 6 maande. Gereelde besoeke is die beste manier om probleem op te spoor voor dit pynlik word of ernstige behandeling nodig het. Kinders wat die tandarts net sien wanneer daar ’n probleem is, assosieer die plek met slegte nuus oor hul tande.

Wees optimisties wanneer julle ’n naderende tandartsbesoek bespreek, maar moenie jou kind valse hoop gee nie. As jy sê niks gaan gebeur nie; die dokter gaan net in hul mond kyk, en jou kind het op die ou end ’n behandeling nodig, kan dit beteken dat hulle vertroue in jou en die dokter verloor.

Kies die regte tyd! Alles is moeiliker as jou kind moeg is. Probeer ’n oggend-afspraak kry.

Praat oor die besoek, maar nie in te veel besonderhede nie. Gee eenvoudige antwoorde waar nodig. Die tandarts is beter toegerus om ingewikkelder vrae te beantwoord in taal wat maklik is vir die kleintjie om te verstaan.

Beklemtoon die waarde van die besoek, eerder as alles wat dalk verkeerd kan loop. Gebruik positiewewoorde soos “skoon, sterk, gesonde tande” wanneer jy oor ’n tandarts praat sodat die besoek lekker en goed klink, eerder as vreesaanjaend. Dit is ook goed om jou kind van kleins af te leer dat tandartsbesoeke noodsaaklik is en nie opsioneel nie.

As jy agter kom jou kind het ’n ernstige vrees, praat met hulle daaroor. As jy weet waarvoor hulle presies bang is, is dit makliker om te hanteer.

Hou ’n speel-speel tandartsbesoek met jou kind voor die regte afspraak. Gebruik ’n tandeborsel en tel jou kleintjie se tande hardop. Jy kan selfs ’n spieël ophou om te wys hoe die tandarts na sy tande gaan kyk. Laat jou kind dan tandarts “speel” met ’n pop of sagte speelding as “pasiënt”. Dit kan dalk help om jou kind gewoond te maak aan die tandartsroetine.

Maak seker jy bly self kalm! Dit is normaal vir ’n kleintjie om ’n bietjie te huil en te wriemel as ’n vreemdeling hulle wil ondersoek. Onthou dat die tandarts en sy personeel waarskynlik gewoond is daaraan om met kinders te werk – laat hulle jou lei met hoe jy kan help.

Moenie ’n beloning belowe nie. Die versoeking is dalk groot om ’n beloning soos lekkergoed te belowe as jou kind hulle goed gedra, maar dit stuur nie die regte boodskap nie. Eerstens sal hulle dalk wonder wat dan so erg is aan ’n tandarts dat hulle sal wil huil. En tweedens help dit veel die tandarts beklemtoon gesonde tande en jou kind kry ’n stokkielekker net daarna nie!

As tandartsbesoeke ’n te groot probleem word, oorweeg ’n besoek aan ’n pediatriese tandarts. Hierdie spesialiste het ekstra opleiding om met kinders te werk.

- Suzaan Hauman

Bronne: webmd.com, aquafresh.com, parents.com