Toe die ANC op die party se Polokwane-konferensie in 2007 besluit hulle gaan die Skerpioene ontbind, het een man gesê: Aikôna. Hier kom ’n ding waarvan ek nie hou nie.

Toe gaan hy hof toe en ba­klei. Drie jaar lank het hy sonder ophou voortgeveg. Hy het teen die land se beste prokureurs ba­klei. Hy het teen die land se toppolitici opgestaan, onder meer teenpres. Jacob Zuma self.

En nou het Hugh Glenister (52) sy saak gewen.

Die regstryd het hom R3,8 miljoen uit die sak gejaag en baie mense het gesê hy’s mal. Nou voel hy hy’t homself bewys, sê Hugh uit Keulen in Duitsland, waar hy ’n tegnologie-ekspo bywoon. “Nou kan ek ten minste sê ek was reg.’’

Dit is ’n paar dae nadat die grondwethof in Hugh se guns beslis het. Die hof het bevind die Valke is nie onafhanlik genoeg nie, dit voldoen nie aan internasionale wetgewing nie, en dit moet binne 18 maande waarlik onafhanklik word.

Dit is goeie nuus, maar Hugh, of Bob, soos hy verkies om genoem te word, erken dit voel nou amper asof ’n deel van hom weg is. Ná drie jaar sal hy nou iets anders moet kry waarop hy daardie vasbyt-energie kan rig.

En hoewel hy sy oorwinning saam met sy regspan en personeel gevier het, sê Bob dit was ’n eensame pad tot by die eindstreep.

‘‘Die reis waarop ek pas was, herinner my aan ’n boek, The Loneliness of the Long Distance Runner,’’ sê hy, en lag lekker aan die ander kant van die lyn.

‘‘Daar was so baie oomblikke waarin ek in myself getwyfel het, baie kere dat ek bevraagteken het wat ek doen en net wou handdoek ingooi. Maar ek sien van nature die groter prentjie. Ek moes net gefokus bly op die langtermyndoelwit.’’

En dit belowe hy: Wanneer die nuwe, verbeterde Valke vir Suid-Afrika aangebied word, sal hy daar wees. Soos die bier-advertensie lui: Hy hou hulle dop.

‘‘Daar was kere dat ek gedink het my kinders haat dit om ’n Glenister te wees, want my kaperjolle het alles in hul lewe oorheers, onder meer hul prestasies en hul onafhanklikheid. Die grootste gawe wat ek hulle kon gee, was om hulle onafhank­lik te maak,’’ sê Bob, meerderheidsaandeelhouer in Telpro Management, ’n tegnologie-onderneming in Midrand.

Sy gesin was soms nogal krities oor dit waarin hy hom begewe het en daar was tye dat Telpro se aandeelhouers die wenkbroue gelig het oor Bob se hofstryd.

‘‘Daar was ’n tyd heel aan die begin . . . tipies man, het ek alles wat ek het in die hofaansoek gewerp en fokus verloor op alles anders,’’ sê hy. ‘‘Van die aandeelhouers het my so ligweg gestamp en gesê: ‘Haai man, daar gaan ander goed aan.’ Ek het dit nodig gehad; dit het my gehelp om weer te fokus en balans te kry.’’

Hy is verrassend ongeërg oor die amper R4 miljoen wat hy aan die saak bestee het.

‘‘Die geld het van my onderneming af gekom. Daar was kommer van ander aandeelhouers oor die uitgawes, maar ons het dit gedek en afbetaal. Al het die R3,8 miljoen dan uit my sak gekom, kan jy in ’n sin sê die ander aandeelhouers het ook finansieel bygedra,’’ sê hy.

Dit was die sukses van sy onderneming wat hom laat glo het hy moet standpunt inneem toe die ANC aankondig hulle gaan die Skerpioene ontbind.

‘‘Ek het my onderneming begin met R45 in my sak, en korrupsie neem vandag daardie geleentheid weg vir entrepreneurs. Ek moes opstaan! Die Skerpioe-ne was nie volmaak nie; daar was beslis daar ook ’n inmengery, maar hulle was beter as wat ons nou het,’’ sê hy.

‘‘Ons sal net sukses behaal in die stryd teen korrupsie as daar ’n onafhanklike liggaam is wat bewerings kan ondersoek, onpartydig en sonder vrees. Ons het ’n liggaam nodig wat swaargewigpolitici en -amp­tenare sal behandel soos hulle enigiemand anders sal behandel. Daarom het ons ’n spesiale ondersoekeenheid nodig wat nie as ’n tak van die regering bestuur word nie.’’

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 31 Maart 2011.