DIS vyf dae sedert oudpres. Nelson Mandela se dood en Qunu begin ál besiger raak. Gen. Bantu Holomisa, ’n bekende politikus en familievriend van die Mandelas, het opgedaag om ondersoek in te stel na veiligheidsmaatreëls op dié Oos-Kaapse dorpie.

hg20131209mdk001

Op die sportterrein van die Hoërskool Nkalane verrys tente waarin hooggeplaastes kan vergader. By die Nelson Mandela-museum daag reuse trokke met kragopwekkers en rekenaarnetwerkstelsels in reuse bokse op vir die media wat daar byeen is om uit te kyk op Madiba se landgoed.

Binne ’n radius van 100 km van Qunu af is blyplek so skaars soos hoendertande. Die gaatjies wat daar wel is, trek by R1 500 per persoon, sonder ontbyt.

Op Qunu is jy gelukkig as jy ’n buitetoilet gratis kan gebruik. Die prys vir ’n enkele besoek? R10, en jy moet jou eie toiletpapier voorsien.

Daar is baie jong entrepreneurs wat slaapplek aan besoekers bied. Camagu Leonard Nyoka (19) is aan die stuur van sake op ’n kampeerterrein wat oor “Madiba se paleis” uitkyk. Teen R5 000 per dag kan jy staanplek kry. “Ons wil dit vir besoekers gemaklik maak om Madiba se begrafnis by te woon,” vertel hy en wys in die rigting van die reuse staalkonstruksie-koepel langs die plek waar Madiba begrawe gaan word, ’n ent van sy huis af. “Ons verwag derduisende mense,” sê Leonard.

[post-slider]

Nokwanele Bhalizulu, die hoof van Qunu, vertel sy gaan Madiba mis. Haar huis is oorkant syne. Hy het haar mening gerespekteer en altyd met haar beraadslaag wanneer hy oor iets moes besluit rakende die 18 nedersettings waaruit Qunu bestaan.

“Dis vreemd om te dink ek gaan hom nooit weer sien daar aan die oorkant van die N2 nie,” sê sy.

Deur Pieter van Zyl

Foto's deur Martin de Kock