Freddie, die voorsanger van die legendariese groep agter die treffer We Will Rock You, het in 1991 gesterf, maar die tromspeler, Roger Taylor, en kitaarspeler, Brian May, het aanhou musiek maak en werk nou aan ’n nuwe album met opnames wat Freddie voor sy dood gemaak het.

Brian het aan die BBC gesê: “Ons het nog ’n paar liedjies gevind waarop Freddie sing en ons almal op speel, en dis pragtig. Dis ’n versamelalbum, maar ons sal die musiek daarby insluit wat niemand ter wêreld nog gehoor het nie. Ek dink mense sal dit geniet.”

Die musikant het bygevoeg die musiek op die album kom van ’n tyd toe die groep ’n hoogtepunt beleef en sal waarskynlik Queen Forever heet. “Die meeste daarvan kom uit die 80’s, toe ons op ons beste was. Dis nogal emosioneel; dis die groot ballades en die epiese klanke. Dit sou nie so gewees het as ons nie die restourasiewerk daaraan gedoen het nie,” het hy gesê.

“Ons moes van voor af begin omdat ons net oorskietstukkies musiek gehad het. Maar ons het geweet hoe dit sou gebeur het as ons dit klaargemaak het; ek kan dit met moderne tegnologie laat gebeur.”

Die groep het in 1995 ’n postume album, Made in Heaven, uitgereik, wat ook liedjies bevat het waarop Freddie voor sy dood gesing het. Dit was ook die laaste Queen-album waarop die baskitaarspeler, John Deacon, voor sy aftrede in 1997 gespeel het.

Sedertdien het die groep met die sangers Paul Rodgers en Adam Lambert gewerk. Brian het verlede jaar gesê hulle gaan ’n liedjie uitreik van Freddie en Michael Jackson wat nog nooit tevore gehoor is nie, maar dit is nog onduidelik of dit op die nuwe album sal verskyn.