DIT is voor sonop op ’n Maandagoggend in die herfs van vanjaar en nog donker toe Nico Venter (21) en sy meisie van die afgelope maand, Narina Theunissen (19), wakker skrik van twee harde slae teen sy voordeur.

Hy strompel in sy kortbroekie voordeur toe in sy huis by die casino buite Pretoria waar hy ’n projekbestuurder is, en kyk deur die loergat. Hy erken dadelik die polisievrou wat daar staan. Hy weet sy is hier oor die moord sowat twee maande tevore op sy eksmeisie. Sy wil seker vir hom nóg vrae vra, dink hy.

Miskien weet hulle nou uiteindelik wie Anika Smit op 10 Maart so wreed vermoor en haar hande afgekap het. Miskien ken hy selfs die skuldige en kan hy hulle help met nog inligting, maal die gedagtes deur sy kop.

Maar die ontnugtering is groot toe hy die deur oopmaak. “Nico Venter, jy word in hegtenis geneem vir die moord op Anika Smit,’’ hoor hy – woorde wat nooit in sy donkerste drome eens deur sy kop gegaan het nie.

En soos wat ’n polisieman die groot, fris man omdraai en die boeie om sy gewrigte slaan, verdiep die nagmerrie wat twee maande tevore begin het.

Teen die tyd dat die son se eerste strale oor die Bosveld se doringbome skyn, sit Nico agter tralies in ’n polisiesel in die Pretoria-Noord-polisiekantoor. En hy dink aan die baie stories wat hy al tevore gehoor het, van mense wat onskuldig in die tronk opgesluit word en eers jare later weer die buitewêreld sien . . .

Hy loer versigtig in die rigting van die Zimbabwiër wat die grys sel met hom deel. Hy is ook hier weens moord. Dit maak Nico bang. Hy wil huil, maar hy wil ook nie sag lyk nie; dit kan gevaarlik wees. Waar hy ’n paar uur gelede nog presies geweet het wat vandag se werkdag vir hom inhou, is sy hele toekoms nou vir hom onseker.

Die meer as 48 uur tussen die vier betonmure waar vorige gevangenes hul boodskappe uitgekrap het, voel soos ’n ewigheid. Die vernedering spoel oor hom toe ’’n polisieman vir hom die oggendkoerant buite die traliedeur hou en hy bo sy gesig op die voorblad die woorde sien: “Anika se eks vas.”

Die sportiewe jong man se moed is op ’n laagtepunt teen die tyd dat hy op borgtog van R10 000 vrygelaat word. Hy voel skaam en angstig toe hy homself vasloop in die pers se flitsende kameras buite die hof. Dit voel vir hom asof almal hom klaar skuldig bevind het.

Dis ’n verligting om uit die tronk te wees, maar die moordklag hang steeds soos ’n swaard bo sy kop. Hy sien eenvoudig nie kans om terug te keer na die huis waar hy in hegtenis geneem is nie. In dié tyd van onsekerheid, besluit hy dan, neem hy liewer maar sy toevlug tot sy ouerhuis by die casino.

Wie weet wat nog alles vorentoe wag en waar dit alles eendag gaan eindig?

DIT is vier maande later, die moordklag teen Nico is pas laat vaar en vandag praat hy vir die eerste keer oor die foltering wat hy en sy gesin in die afgelope maande verduur het.

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 30 September 2010