Toe sy voet van die fietspedaal glip, het hy hard met moederaarde kennis gemaak en ’n paar skrape opgedoen. Dis te verstane.

Maar dis wat volgende gebeur het wat hom in erge pyn en ellende sou dompel. “Ek het skielik ’n ongelooflike rookwolk gewaar,” het hy gesê. “En toe die verskriklike pyn in my been wat daarmee gepaard gaan – asof iemand ’n reuseblok ys teen my been druk.” Die “blok ys” was toe sy iPhone in sy broeksak wat ontplof het.

’n Deel van sy broek is deur die foon weggesmelt.

Gareth sê sy vingers het gebrand toe hy probeer om die iPhone van die vel op sy bobeen weg te kry. Hy moes dit met sy vuis slaan om die foon van sy been te skei.

“Dit was verskriklik seer,” vertel hy van sy skokervaring.

Hy bestempel die voorval as een in ’n miljoen. Met sy val het ’n gedeelte van die foon die lithium-battery deurboor en dit het die toestel laat ontplof.

Gareth het derdegraadse brandwonde opgedoen en moet ses dae lank aan ’n masjien gekoppel wees. Dié masjien suig al die dooie, verbrande vel uit die wond. Apple het glo reeds kontak gemaak met Gareth om die saak verder te ondersoek. Wat is derdegraadse brandwonde? Dit kom daarop neer dat alle lae van die vel tot niet is. Dit kan ook tot onder die vel indring. Brandwonde kan swart of wit wees en sal droog wees. Dit kan ook leeragtig lyk. Dit kan klein brandoppervlakke maande neem om gesond te word. Groter oppervlakke sal ’n veloorplanting vereis.

Hoe groot is die kans dat jou selfoon kan ontplof?

Gareth se iPhone is nie die eerste wat ontplof het nie. In 2014 het ’n gr. 8-leerder van Maine in Amerika geringe brandwonde opgedoen toe haar iPhone 5C oorverhit het. Die foon was in haar agtersak.

Toe sy gaan sit, het sy ’n plofgeluid gehoor en die foon het begin warm word. Soos in Gareth se geval, was daar eers rook en toe die brand.

Twee voorvalle is in die Tsjeggiese Republiek opgeteken waar twee iPhone 3GS-batterye soos ballonne opgeblaas het. Gelukkig het die batterye nie ontplof nie.

Dit gebeur egter nie net met iPhone-produkte nie.

Volgens wat berig word, is daar sowat ’n paar honderd slimfone ter wêreld uit die miljoene der miljoene wat in gebruik is, wat op so ’n wyse ontplof het.

Enige slimfoon wat met lithium-batterye werk, loop dieselfde risiko. Drie van die hoofredes hoekom slimfone kan ontplof, is te wyte aan:

1. Oorverhitting

2. Oorlading

3. Groot hoeveelhede druk wat op die toestel uitgeoefen word

Dit word aanbeveel dat jy net die herlaaier gebruik wat jy saam met jou slimfoon gekry het. Moenie kortpad vat en sommer een op die straathoek aanskaf nie. Onthou die gesegde: goedkoop koop is duur koop.

Is jy een van dié wat jou slimfoon dae aaneen herlaai of bloot net weens luiheid nie lus is om dit te ontkoppel nie? Dis nie ’n slim plan met ’n slimfoon nie. Ontkoppel jou foon van die kragbron sodra dit herlaai is.

Laastens, ’n slimfoon in jou agtersak is eintlik taboe. Dit plaas onnodige druk op jou toestel en kan ook tot ander skade lei – soos gebreekte skerms wat weer ten duurste vervang moet word.

Bronne: metro.co.uk, hospitals.unm.edu, aww.com.au, digitaltrends.com, theaustralian.com.au