Aanvallers het ’n geliefde tolk op die Potchefstroom-kampus vermoor.

Die polisie in Potchefstroom in Noordwes is op die spoor van vyf aanvallers wat vermoedelik Woensdagaand verantwoordelik was vir die dood van Maria Arangies (42). Sy was die afgelope 10 jaar ’n tolk uit Afrikaans na Engels en het werk vir student toegankliker help maak.

“Dis ’n groot verlies,” sê Johan Blaauw, direkteur van die taaldirektoraat van die Noordwes-Universiteit. “Sy was baie intelligent.” Maria het ’n regsgraad gehad, het medies studeer en wou ’n graad in aptekerswese aanpak. “Ons het soveel baat gevind omdat sy soveel belangstellings gehad het.” Maria het meestal in die aptekerswesedepartement as tolk opgetree. Haar pa is prof. J. Arangies van die bedryfsekonomiedepartement. Karien Jordaan, 'n nuusleser van die radiostasie OFM het daaroor getwiet:

Woordvoerders by die universiteit was vanmiddag nog nie bewus van die voorval nie.

’n Vrou is oorlede en ’n ander vrou is in die hospitaal na rowers hulle Woensdagaand omstreeks 22:00 by hulle huis in Mooivalleipark oorval het.

Die bure het skote gehoor, waarna hulle vir Mooirivier Beskerming gekontak het, het ao Mpho Manyoba, polisiewoordvoerder, vertel. Met die polisie se aankoms het hulle die twee vroue en hulle buurvrou in die huis aangetref. Een van die vroue was bewusteloos en die ander ernstig beseer.

Dit blyk dat die rowers toegang verkry het deur oor die die muur en onder die elektriese heining te klim.

“Paramedici van ER24 het probeer om die bewustelose vrou se lewe te red maar daar was niks wat hulle verder vir haar kon doen nie. Sy is dood op die toneel verklaar.

’n Saak van huisroof en moord word ondersoek,” het Mpho aan die plaaslike koerant Potchefstroom Herald gesê.

Die beseerde vrou is na Mediclinic Potchefstroom geneem vir verdere behandeling.

Volgens Mpho word die moontlikheid ondersoek dat dieselfde rowers gisteroggend in Van der Hoffpark by ’n gewapende rooftog betrokke was.

Die polisie is op die spoor van die verdagtes en kon nog nie nog inligting bekendmaak nie.

Bronne: potchefstroomherald.co.za, twitter.com/kopereend