Soos die dae aanstap nadat ’n giftige slang hom in ’n woonstelblok in Pretoria tuisgemaak het, oorweeg inwoners nou drastiese stappe om hul veiligheid te verseker.

“Mense praat nou van sake in eie hande neem. Hulle is keelvol,” het ’n inwoner, wat gevra het om anoniem te bly, aan News24 gesê.

“Daar is sprake van swembadsuur, Jeyes Fluid en warm water in die drein gooi om te verseker die slang is dood.”

Dit is nou sewe dae sedert die glibberige reptiel ’n onverwagte verskyning in een van die toiletbakke by Glenletta Court in Lynnwood Glen gemaak het.

Die slang is Donderdagoggend gevind nadat dit in die toiletbak van een van die woonstelle skuiling gesoek het. Dit het vermoedelik deur die dreineringstelsel ingekom.

Lees ook: Monsterslang by Brasiliaanse bouperseel gevind

’n Video is geneem van die giftige slang wat in die toiletbak vassit (sien bo). Die slangvanger Barry Greenshields het die taak gekry om die reptiel te vang. Hy het die slang probeer beweeg, maar dit het aan iets binne-in vasgeklou. Die slang het in die bak teruggegaan en verdwyn.

Die slang is sedertdien nie weer gesien nie en die inwoners wag nou maar.

[caption id="attachment_147492" align="alignnone" width="600"]Só het die slang destyds by die toilet uitgepeul voor dit weer verdwyn het. Só het die slang destyds by die toilet uitgepeul voor dit weer verdwyn het.[/caption]

Gebrek aan kos

Die opsigter, Eva Panayotakis, het aan News24 gesê die slang is steeds nie gekry nie, maar hulle laat vaar nie hoop nie.

“Ons moet maar net aanhou kyk of dit weer verskyn,” het sy gesê.

Barry het kommer uitgespreek oor die inwoners se plan om die slang dood te maak. Hy sê hulle het verskeie tegnieke gebruik om dit op te spoor, maar die pogings was onsuksesvol.

“Ons het kameras in die pype gesit om daarna te soek. Die inwoners is steeds bekommerd en party van hulle voel as dit opkom, wil hulle dit doodmaak en dit is iets wat ek nie wil hê nie. Ek hoop hy het deur die pype uitgegaan,” sê Barry.

Lees ook: Slange paar in Australië – en dis vreesaanjaend!

Hy voeg by ’n gebrek aan kos vir die reptiel kan tot beperkte beweging lei. Hy sê al kan slange weke lank sonder kos klaarkom, sal die kobra in ’n stadium moet vreet.

“Hy kan minder aktief raak en dalk minder beweeg in ’n poging om energie te bespaar. Hy beweeg dalk rond om ’n padda te kry om te vreet,” sê hy.

Nog ’n inwoner, wat ook anoniem wil bly, het bevestig die mense in die kompleks praat onder mekaar oor maniere om die slang dood te maak.

Bron: News24