[caption id="attachment_168187" align="alignnone" width="600"]Ryan Phillippe (Foto: Brian To, WENN.com) Ryan Phillippe (Foto: Brian To, WENN.com)[/caption]

In Maart vanjaar is gegis die akteur het tydens sir Elton John se 70ste verjaardagpartytjie in Los Angeles met die sangeres geflirt. Ryan is duidelik dik vir die stories en wil tot elke prys keer dat helikopters oor sy huis vlieg in ’n poging hom en Katy saam te sien.

“Ek gaan nie met Katy Perry uit nie,” het hy in hoofletters getwiet. “Ken haar skaars. Hou asseblief op om met helikopters oor my huis te vlieg. Sy is nie hier nie. Dankie.”

Toe een van die gebruikers terugkap hy sou nie omgee as mense dink hy gaan met Katy (32) uit nie, het Ryan (42) geantwoord hy “gee nie om dat mense dit dink nie; ek wil net nie hê perverte moet van tyd tot tyd laag oor my huis vlieg nie”.

’n Ander een het grappenderwys gesê sy boodskap is iets wat “iemand sou sê wat Katy Perry in sy kelder het”, waarop Ryan grappenderwys “sjt” geantwoord het.

In November is berig Ryan en sy verloofde, die regstudent Paulina Slagter, se paadjies het geskei. Hulle het in 2011 begin uitgaan. Ryan het die gerugte oor die skeiding in Maart bevestig toe hy twiet hy is “vir die eerste keer in baie jare enkellopend . . . het geen idee wat om te doen nie”.

Katy en die akteur Orlando Bloom (40) is in Maart uitmekaar nadat hulle ’n jaar saam was. Hul verteenwoordigers het toe in ’n verklaring gesê: “Voor die gerugte en onwaarhede hand uitruk, kan ons bevestig Orlando en Katy neem op goeie voet ’n blaaskans van mekaar.”

Die sangeres was van 2010 tot 2012 getroud met die Britse komediant Russell Brand (41), terwyl Ryan van 1999 tot 2007 met die aktrise Reese Witherspoon (41) getroud was. Hulle het ’n 17-jarige dogter, Ava, en ’n seun, Deacon (13), en hy het nog ’n kind, die vyfjarige Kai Knapp, by die Pitch Perfect-aktrise Alexis Knapp (27).

© Cover Media