DIE welige tuin voor die siersteenhuis aan die einde van ’n rustige straat in Walmer, Port Elizabeth, maak dit moeilik vir nuuskierige bure om in te loer tot waar die nuwe intrekker by die deur staan en wag.

Op 21 is die krieketster Wayne Parnell die nuutste en waarskynlik loshande die jongste huiseienaar in hierdie straat waar waterpoele nou ná ’n reënbui blink. Die buurt met sy wit paaltjieheinings beloof, ondanks die versperrings van elektriese draad, vrede en huislike geluk. Dis die soort plek waar jy van werkstres kan ontsnap.

‘‘Ek het na hope huise gekyk, maar toe ek by die deur instap, het ek dadelik op hierdie huis verlief geraak. Ek voel bevoorreg dat ek dit op my ouderdom kon bekostig, maar ek het van my IPL (Indiese Premierliga) geld daarvoor gebruik,’’ vertel hy skamerig en erken die gedagte dat hy nou ’n huiseienaar is, maak hom nog ’n bietjie ongemaklik.

‘‘Dit was eers vreemd, en dit is steeds. Maar ek is seker wanneer ek die eerste rekeninge kry, sal ek besef waaroor huiseienaarskap gaan.’’

Sy stem weergalm eintlik deur die groot huis. Die vyf slaapkamers, woonvertrek en onthaalarea is so te sê leeg. Die handvol meubelstukke wat daar wel in die huis is, is verbasend outyds.

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 24 Februarie 2011