Jy ken hom dalk nog nie, maar hou hom dop: Een van die dae sal die naam David Miller een van dié wees wat gereeld om die braaivleisvure opduik wanneer die manne krieket gesels.

Die Indiese krieketspan is op pad vir ’n toetsreeks, aanstaande jaar is dit weer Wêreldbeker-tyd en David is een van die groepie opkomende jong krieketspelers in die Proteaspan van wie ons ál meer gaan hoor.

Krieketkenners sê die 21-jarige kolwer van Hillcrest, Durban, gaan ’n sleutelwapen wees in die Proteas se T20- en eendagwedstryd-arsenaal – en David het reeds bewys dit sit in sy broek om ’n wedstryd in sy span se guns te swaai.

Die speler met die seunsgesig het krieketaanhangers, sy spanmaats en sy teenstanders verstom toe hy in Mei sy debuut vir die Proteas in ’n T20-wedstryd teen die span van die Wes-Indiese Eilande gemaak het.

Sy 33 lopies van 26 balle het ’n wedstryd wat sy span heel moontlik sou verloor het – Suid-Afrika het 59 lopies gehad en vyf paaltjies het toe reeds geval – in ’n oorwinning met ’n enkele lopie omskep.

Dis die soort debuut waarvan jong krieketspelers net kan droom, en David is steeds verstom oor wat die afgelope paar maande met hom gebeur het.

“Alles het so vinnig verbygevlieg dat ek nie eens kans gehad het om senuweeagtig te wees of my debuut te geniet nie,” sê hy toe ons hom by die Kingsmead-stadion in Durban ontmoet. “Ek skep nou eers genoeg asem om te kan terugkyk op die jaar en die groot voorreg wat vir my gegee is.”

Dis ’n grys dag in Durban en koel winde warrel om die stadion. Die veld is steeds nat nadat dit vroegoggend gereën het, maar David dra ’n kortbroek, T-hemp en plakkies en dit lyk nie asof die koue hom veel pla nie. Die Dolphins-speler onthou nog goed hoe dit gevoel het toe hy in Mei in die nasionale span ingesluit is.

“Dit het nie saak gemaak dat ek eers net drinkgoed rondgedra het nie – net om in die span te wees was ’n ervaring wat ek van plan was om te geniet. Ek is mal oor krieket speel. Om omring te wees deur die beste spelers beteken jy kan soveel leer.”

Lees meer oor David in Huisgenoot, 16 Desember 2010.