“Ons het besluit om ons troue privaat te hou met net hegte familie en vriende, en geen media te betrek nie, maar ons het besluit om ons trouvideo met almal te deel en vir diegene wat ’n bietjie meer van ons spesiale dag wil sien,” het Sasha op sosiale media geskryf.

Die paartjie het in September in die Le Victoria-hotel in Mauritius afgehaak. Onder die bekende gaste wat deel van die bruilofsviering was, was Quinton se Protea-spanmaats Dale Steyn, JP Duminy, AB de Villiers, Chris Morris en David Miller.

Sasha het die asem weggeslaan in ’n skepping deur die Suid-Afrikaanse ontwerper Anél Botha, terwyl Quinton en sy strooijonkers deftig uitgevat was in Polo-pakke. Die paartjie is al vier jaar saam en het in Junie verlede jaar verloof geraak. Hulle het nie aanvanklik beplan om in Mauritius te trou nie, het Sasha ná die troue aan sarie.com vertel.

"Ons wou oorspronklik eers in Desember vanjaar op Knysna getrou het. Toe besluit ons in Januarie om in Mauritius te trou. Dit was ’n ‘bestemmingstroue’ en die meeste beplanning het eers sowat twee maande voor die tyd gebeur," het sy vertel.

Dit was haar “droomtroue”, het sy ná die bruilof op Instagram vertel. “Dankie dat jy (tot dusver) ’n wonderlike man vir my is en vir alles wat jy vir my doen!” was haar boodskap aan haar man.

Kyk die paartjie se spesiale trouvideo hier:

Sasha & Quinton | Mighty Fine | Trailer from Mighty Fine Productions on Vimeo.

Ekstra bron: Sarie.com