HY LYK moeg hier waar hy sy lenige lyf oor die gerieflike rusbank uitstrek, en dan net effens versit om die kombers oor die bondeltjie in die wiegie reg te skuif. Hy kan sy oë kwalik wegskeur van sy pasgebore seun.

Dié mensie het die Proteas se voormalige onderkaptein Johan Botha duidelik uitgeboul, en wanneer hy begin praat, tuimel die woorde uit. ‘‘Sy geboorte was die spesiaalste oomblik,’’ sê die krieket-ster opgewonde. ‘‘ ’n Kind verander alles.’’

Johan was saam met sy vrou, Monica, in die kraamkamer toe klein Austin Botha vroeër vandeesmaand sy opwagting maak. ‘‘Ek moes die naelstring knip, maar my hand was nog seer van ’n liefdadigheidsfietsrit; daarom moes ek toe albei hande gebruik,’’ sê Johan.

Die 28-jarige krieketspeler glimlag nog ’n entjie breër toe hy na sy eersgeborene kyk waar hy vas lê en slaap. Die baba, wat ’n bos donker donshare het, is net ses dae oud, weeg 3,4 kg en het sy ouers se hart gesteel.

Hulle is trots daarop om hom die eerste keer in Huisgenoot vir Suid-Afrika te wys en verwonder hulle oor hoe vinnig hy groei. ‘‘Ek wou nie iemand anders se baba vashou nie,’’ sê Johan. ‘‘Dit voel asof hulle gaan breek. Maar met jou eie kind raak jy gewoond daaraan en Austin voel nou so sterk.’’

Die man wie se draaiboulwerk sy teenstanders met vrees vervul, neem vir ’n ruk ’n blaaskans van krieket. Maar sy liefde vir die spel blyk duidelik uit die foto’s oral in hul woonstel in St. George’s Oval in Port Elizabeth – en die naam wat hy vir sy seun gegee het.

‘‘Ek het my toetsdebuut teen Australië gemaak; dit is die ‘Aust’,’’ verduidelik hy. ‘‘En my eendagtoetsdebuut teen Indië – dis die ‘in’. Dit vorm Austin.’’

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 19 Augustus 2010.