'Europa se voorste sado-masochisme-gesel.'

Leopold Leisser, ’n Duitser wat in Engeland woon en hom op sy webtuiste beskryf as “Europa se voorste sado-masochisme-gesel” gaan na verwagting ’n sleutelgetuie in die saak wees.

Shrien staan tereg op vyf aanklagte wat verband hou met die moord op sy vrou, Anni, tydens hul wittebrood in Kaapstad in November 2010. Sy verskyning Maandag sal sy tweede verskyning in die hof wees. Sy eerste verskyning was op 8 April.

Anni se pa, Vinod Hindocha, het aan die Sondagkoerant bevestig dat Leopold ’n verskyning tydens die verhoor gaan maak. “Hy is ons sleutelgetuie,” het hy gesê.

Leopold het aan die koerant gesê hy kan nie kommentaar lewer nie. “Dis ’n voortdurende saak. Ek is jammer.”

Vinod het gesê Leopold, Anni se niggie, Sneha Hindocha (aan wie sy glo SMS’e gestuur het oor haar ongelukkigheid met Shrien), asook twee ander familielede, gaan getuig.

Op sy webtuiste, germanmasteruk.co.uk, poseer Leopold in swart leer met die flap van ’n pet wat sy oë versteek en rook ’n groot sigaar. Hy skryf kliënte wat “reg is vir ware oorheersing, harde dissipline en totale beheer, moet op hul knieë gaan”.

Leopold beskryf homself as harig, welbedeeld en maak onder werkervaring melding daarvan dat hy in die weermag gedien het. Op sy webtuiste is daar foto’s van die toerusting wat hy gebruik asook kommentaar van tevrede kliënte. Ene Pigboi van Dublin skryf “meester het Pigboi dadelik op sy gemak laat voel”. Michael “dink steeds aan jou harige arms om my nek” en Bob het ’n “wonderlike tydjie” gehad.

Leopold se naam het in 2012 in mediaberigte oor Shrien opgeduik. ’n Britse koerant, die Daily Star, het destyds berig dat Leopold aan die polisie gesê het dat Shrien hom op drie aparte geleenthede betaal het vir seks. Leopold beweer Shrien het aan hom gesê hy moet ’n manier vind om uit die huwelik te kom en dat sy familie hom sou onterf as hy sy verlowing sou verbreek.

Sedert Shrien se laaste hofverskyning het hy meer as ’n maand in die Valkenberg psigiatriese hospitaal deurgebring, waar hy vir depressie en posttraumatiese stres behandel word. Met sy laaste verskyning voor regter-president John Hlophe het die deftig geklede sakeman van Bristol verward gelyk.

Volgens die akte van beskuldiging wat toe aan die hof voorgelê is, word hy aangekla van sameswering tot ontvoering, roof met verswarende omstandighede, moord, ontvoering en regsverydeling. Hy is nog nie gevra om te pleit nie.

- Sapa