“Selfs al aanvaar ’n mens omstandigheidsgetuienis is toepaslik in hierdie saak, misluk die staat se saak klaaglik,” het adv. William Booth gesê aan die Paarlse streekhof, in sitting in die landdroshof. Hy het gesê daar is geen bewyse teen Johan du Toit nie en gevra die hof moet die klag van moord op sy vrou, Chanel, teen sy kliënt terugtrek.

Die versoek kom amper sewe jaar nadat hy in hegtenis geneem is.

Johan het Chanel na bewering verwurg. Haar lyk is op 7 Julie 2010 in die slaapkamer van hul huis op Franschhoek gevind. Johan se ma het op die lyk afgekom nadat haar seun haar blykbaar op die oggend van die voorval gebel en gevra het sy moet by sy huis gaan inloer.

Johan het later beweer hy is tweeuur die oggend by die huis weg om te gaan jag.

‘Hulle was ’n liefdevolle egpaar’

William het gesê almal op die plaas het sowat ’n week voor die beplande reis daarvan geweet.

“Dit het aan die lig gekom hulle was ’n liefdevolle paartjie wat op die punt was om met ’n gesin te begin; trouens, sy vrou het vir hom padkos ingepak omdat hy in die vroeë ure van die volgende oggend sou vertrek,” het hy aan landdros Joe Magele gesê.

Polisiegetuies, het hy gesê, het getuig hulle het met hul aankoms gesien die skuifdeur is oop en daar was merke daaraan, die slaapkamer en ander vertrekke was in ’n warboel, die vuurwapenkluis het op die bed gelê en die vuurwapen eenkant.

’n Besoek aan die plaas het getoon dit is “aan alle kante vir enigiemand” oop.

“Daar is geen sekuriteit nie, geen heinings nie, die paaie loop tot binne-in Franschhoek, en die rivier loop regdeur.”

Dit kan net dui op ’n inbreker wat onwettige toegang tot die huis verkry het. William het gesê daar was geen geskiedenis van enige geweld of vyandigheid in die huwelik nie.

Geringe snye

In ’n mediese ondersoek is geringe snye aan Johan se lyf gekry.

“Die dokter het toegegee dit het met sy werk op die plaas verband gehou. Was dit die een of ander poging om te sê daar was ’n rusie en gevolglik ’n fisieke geveg tussen die beskuldigde en sy vrou?”

Die berekenings en metodes wat gebruik is om die tyd van dood te bepaal, was onakkuraat en kon nie op staatgemaak word nie, het William aangevoer.

Niks kon afgelei word van sy kliënt se woorde aan sy ouers nie.

“Ek sou baie verbaas gewees het as hy, nadat sy vrou oorlede is, nie in ’n emosionele toestand was nie.

“Woorde word betekenisloos om die een of ander erkenning vas te stel, as dit is wat dit is, dat hy enigiets met sy vrou se dood te doen gehad het.”

Ter opsomming het William gesê dit sal geen doel dien vir sy kliënt om te getuig nie.

“Hy is nie hier om die staat se saak aan te vul nie.”

Die hofsaak duur voort.

Bron: news24.com