Professor Honoré Kahi, wat kommunikasie doseer aan die Universiteit van Alassane Ouattara in Bouaké aan die Ivoorkus, word nou as ’n held bestempel nadat foto’s van hom en ’n baba op sy rug met ’n kombers vasgebind soos ’n veldbrand aanlyn versprei het.

Die storie agter dié foto is glo dat die baba, wie se ma een van Honoré se student is, nie wou ophou huil in die klas nie.

Die professor het aan die aanlynagentskap France24 vertel dit gebeur baie dat studente hul baba’s saambring klas toe. Sowat ’n week gelede moes die betrokke ma drie keer die klas verlaat om haar seuntjie te troos.

Honoré het toe met haar toestemming die baba op sy rug vasgebind waarna die gekerm byna onmiddellik bedaar het en die kind aan die slaap geval het.

Sy studente was so beïndruk dat hulle foto’s van Honoré met die slapende baba op sy rug geneem het en aanlyn gedeel het.

“Hulle het aanvanklik vir my gelag,” vertel die professor aan BBC Africa. Toe besef hulle “dis hoe ’n goeie pa lyk, dis ’n regte man . . . ’n rolmodel,” vertel die professor verder.

“Ek is ’n leerkrag, en ons is ook mense – ons is nie robotte nie," regverdig hy sy optrede. Hy vertel ook hy het geleer om baba’s so vas te bind deur gereeld te let op hoe vroue in sy land dit doen.

“Die feit bly staan dat mans ook sekere dinge kan doen,” sê hy, maar verduidelik dat die manier hoe mans deur die samelewing gesien word, hul verhoed om baie goed, soos hierdie, te doen.

Meisies in Afrika het ’n kleiner kans om toegang tot onderwys te kry as seuns, toon ’n verslag van die Verenigde Nasies. Hulle word ook nie goed in hoër onderwys soos op universiteit verteenwoordig nie.

“Ek wil seker maak jong ma’s kry ook die geleentheid om verder onderrig te word, ondanks al die uitdagings wat hulle moet oorkom. Ek moedig ma’s aan om hulself te omgord met deursettingsvermoë, optimisme en ’n vegtersgees.”

Bronne: Facebook; BBC; France24