Wie hou nou nie van 'n heerlike vleispastei nie? En met hierdie heerlike kinkel – soetpatat bo-op – is dit selfs nog gesonder en help dit jou liggaam om teen al die winterkieme te baklei.

  • Genoeg vir 4 mense
  • Bereiding: 10 minute
  • Gaarmaaktyd: 45 minute

Jy benodig:

  • 30 ml (2 e) olie
  • 1 ui, gekap
  • 2 wortels, gerasper
  • 3 knoffelhuisies, gekap
  • 500 g beesmaalvleis
  • 30 ml (2 e) tamatiepasta
  • 250 ml (1 k) beesvleisaftreksel
  • 30 ml (2 e) worcestersous
  • 45 ml (3 e) blatjang
  • 700 g patat, geskil en gekap
  • 400 g klappermelk

Maak só:

  1. Voorverhit die oond tot 180 °C.
  2. Verhit die olie in ’n groot braaipan oor matige hitte. Voeg die ui, wortels en knoffel by en kook 5 minute.
  3. Voeg die maalvleis by en kook 5 minute terwyl jy roer om die vleis op te breek. Voeg die tamatiepasta, aftreksel, worcestersous en blatjang by. Bring tot kookpunt, verminder die hitte en laat prut 20 minute.
  4. Bring die patat en klappermelk in ’n aparte kastrol tot kookpunt. Verminder die hitte en laat 15 minute of tot sag onbedek prut. Dreineer en maak die patat fyn tot glad.
  5. Skep die maalvleis in vier ramekins, bedek met die fyn patat en bak 15-20 minute in die oond.

  • Maak ‘n porsie fyn vir jou ouer baba.

Volg ons gerus op Facebook en Twitter en kom speld saam op Pinterest.