’n Vliegtuig het vanoggend by die Oos-Londen-lughawe neergestort en dit het tot die sluiting van die hoofaanloopbaan gelei, het die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika (Acsa) gesê.

“Vanoggend om 10:15 het ’n privaat vliegtuig op die hoofaanloopbaan van die Oos-Londen-lughawe neergestort. Weens die voorval moes ons die aanloopbaan tydelik sluit, maar die tweede aanloopbaan is oop vir sake,” het Colin Naidoo, woordvoerder van die lughawe, aan News24 gesê.

“In hierdie stadium weet ons daar was twee volwassenes en drie kinders aan boord. Ons het geen inligting oor hul toestand nie. Ons reaksiespan gee eers aandag aan die veiligheid van die passasiers voor die vliegtuig van die aanloopbaan verwyder word.”

Hy het gesê alle voorvalle word deur die Suid-Afrikaanse Burgerlugvaartowerheid ondersoek.

Vroeër vandag het die woordvoerder van die Oos-Kaapse gesondheidsdepartement, Sizwe Kupelo, gesê die twee volwassenes in die vliegtuig is kritiek beseer. Die drie kinders is ook beseer.

Die provinsiale gesondheidsdienste was op die toneel.

Bron: News24