Tuisvideo’s van die Britse koningsgesin gaan by Buckingham-paleis uitgestal word.

Die selfopgeneemde videomateriaal wys koningin Elizabeth as kind en as jong ma met haar eie kinders. Dit gaan uitgestal word as deel van die Royal Childhood Exhibition.

Die persoonlike video’s wys ook die 88-jarige monarg waar sy en haar suster, prinses Margaret, as kinders danspassies uitvoer, berig die koerant The Mirror.

Die kurator Anna Reynolds, wat van verlede Oktober aan die uitstalling werk, het gesê: “Daar is tans belangstelling in koninklike kinders, toe meen ons dit is ’n goeie jaar om die uitstalling te hou.

“Ons het na ’n groot hoeveelheid privaat films gekyk wat gewoonlik in die koninklike argiewe gehou word.

“Ek dink ’n mens kry ’n idee van die pret kant van koninklike kinderjare en die hegte verhouding tussen die ouers en kinders,

“Dit bied ’n intieme blik op hul kinderjare.”

Die ui stalling sluit ook meer as 150 voorwerpe in wat aan 25 koninklike kinders behoort het, van George IV in 1763 tot vandag se prins George. Daar is onder meer doopklere, speelgoed, stootwaentjies, klere en bababedjies, asook prins William se aardrykskunde-skoolboeke vol tekeninge van skoenlappers. Anna het bygevoeg: “Dit is so ’n voorreg om hierdie persoonlike voorwerpe te kan sien en ons hoop dit maak die uitstalling werklik aanloklik.”