’n Privaat ondersoeker bekyk die dood van Sunita (31) en Jacques van Dyk, wat op die plaas Oakdene buite Wellington doodgebrand het. Die brand is op 10 Mei om 03:15 ontdek. 

Jacques se familie het die privaat ondersoeker aangestel. 

Daar word onder meer gekyk na ontmoetings wat Sunita kort voor haar dood gehad het, haar verhoudings (veral met iemand wat glo obsessief was oor haar), asook haar briewe, boodskappe en telefoonoproepe.

Op Woensdag het ’n bron na aan die saak aan News24 gesê die privaat ondersoek het tot dusver verskeie vreemde faktore aan die lig gebring. 

‘Gille’

Dit sluit in onverklaarbare gille uit die huis sowat ses uur voor die brand ontdek is. 

Die privaat ondersoeker het verklarings afgeneem van vyf mense wat sê hulle het op 9 Mei kort ná 21:00 gille uit die Van Dyks se huis gehoor.
Die mense was op pad huis toe van ’n vergadering by ’n nabygeleë laerskool.

Volgens ’n verklaring wat deur vier ander verklarings bevestig word, is gille sowat 60 m van die huis en van die pad voor die huis af gehoor. 
“Hulle sê daar was drie gille om hulp. Dit was ’n vrou,” het die bron gesê.

Soos News24 dit het, is ’n man in die badkamer laat staan waar Sunita en Jacques dood is. 

Die man het “help” geskree, en volgens die bron kon hy van 60 m af voor die huis duidelik gehoor word. 

Nog ’n area waarop die privaat ondersoek fokus, is WhatsApp-boodskappe op Sunita se selfoon, wat blykbaar vermis word. 

’n Individu wat met die Van Dyks verbind word, het volgens die bron die polisie op die oggend van die brand gevra of WhatsApp-boodskappe “nagespoor” kan word.

Raaiselagtige faktore

Dit is as ’n vreemde vraag beskou en vorm nou deel van die privaat ondersoek. 

Nog ’n raaiselagtige faktor wat opgeduik het, is dat die egpaar op die oog af nie uit die brandende huis probeer vlug het nie. Ook nie hul hond, Skollie, nie. 

Skollie is in die gang dood gekry.

Dit lyk ook nie of Sunita en Jacques by die badkamervenster probeer uitkom het nie. Hulle is in die badkamer gekry. Sunita het min klere aangehad en in die bad gelê. 

Die polisie doen ’n geregtelike ondersoek. 

Op Woensdag het die polisie nie dadelik geantwoord op ’n e-pos waarin gevra word of hulle weet van die verklarings van die vyf mense wat beweer hulle het die aand voor die brand gille gehoor nie. 

Op 13 Junie het die polisiewoordvoerder sers. Noloyiso Rwexana gesê ’n forensiese verslag is nog nie ontvang nie. 

’n Geregtelike doodsondersoek is geopen en daar is vasgestel Sunita en Jacques is weens rookinaseming dood.

News24 verstaan die forensiese toetse, wat binne ’n paar weke afgehandel kan wees, kan onthul of Sunita en Jacques voor hul dood enige pille gedrink het. Boksies pille – een ’n kalmeermiddel – is ná die brand op die toneel gevind. 

Die polisie het voorheen bevestig ’n nadoodse ondersoek het getoon Sunita het ook nekbeserings opgedoen. 

Volgens iemand met kennis van die saak stem die beserings ooreen met dié van iemand wat gewurg is. 

Bewerings

Drie weke voor haar dood het glo aan die liggekom Sunita het ’n affair. Sy was ’n onderwyseres by die Laerskool Paarl Gimnasium. 

Vroeër die maand het die hoof van die Laerskool Paarl Gimnasium, Danie le Roux, aan ouers ’n brief oor die saak geskryf. 

Netwerk24 het berig hy het geskryf terwyl hy iemand probeer mentor en help het, het hy die grens van professionaliteit oorgesteek. 

“Ek en my vrou het op ’n persoonlike en emosionele vlak toegelaat dat een van ons personeellede te naby aan ons kom,” het Le Roux geskryf.

Vroeër die week het Netwerk24 berig Le Roux het in reaksie op bewerings dat hy en Sunita ’n buite-egtelike verhouding gehad het, gesê: “Julle kan skryf en sê net wat julle wil oor die beweerde verhouding; dit pla ons glad nie. Ek en my vrou stel glad nie meer daarin belang om met die media te praat nie.”