In ’n brief aan die fees se organiseerders, wat ook geplaas is op die webtuiste van die kampvegtergroep vir gay regte GLAAD, het die akteur (41) gesê hy kon nie “met ’n skoon gewete” die geleentheid bywoon nie.

Wentworth het geskryf: “Dankie vir jul vriendelike uitnodiging. As iemand wat dit in die verlede geniet het om Rusland te besoek, en wat ook tot in ’n sekere mate op Russiese voorouers aanspraak kan maak, sou dit my gelukkig gemaak het om ja te sê. As ’n gay man moet ek dit egter van die hand wys.

“Ek is diep bekommerd oor die huidige standpunt teenoor en die behandeling van homoseksuele mans en vroue deur die Russiese regering. Die situasie is op geen manier aanvaarbaar nie, en ek kan nie met ’n skoon gewete deel wees van ’n geselligheid wat aangebied word deur ’n land waar mense soos ek sistematies ontneem word van hul basiese regte om openlik te leef en lief te hê nie.

“Miskien, as en wanneer omstandighede verbeter, sal ek in staat wees om ’n ander keuse te maak.”