Die eerste kaartjie daag nege-uur die oggend op. Dis swart, in goud voorop staan 9:00, en binne-in is die boodskap: “Vandag gaan vol briefies wees... Vandag is spesiaal... Sal jy my vergesel op hierdie reis?”

Dis genoeg om die vlinders in enige verliefde vrou se maag in formasie te laat vlieg, maar Esmé Barnard (28), ’n Stellenbosse kantoorbestuurder by ’n dokter se spreekkamer, is geensins verbaas oor dié romantiese briefie nie.

Haar kêrel, die bekende Romanz-sanger Louis Loock (28), het haar immers vooraf gewaar-

sku hulle gaan vandag die eerste verjaardag van hul verhouding vier, en sy weet mos lankal hy is ’n man wat met romanse toor.

Sedert hulle in Februarie verlede jaar verlief geraak het, het Louis haar hart al hoeveel keer met sy romantiese gebare laat vermurwe. Hy’t haar hele woonstel al vol rose gestrooi en briefies in haar bed gelos.

Hy sê gereeld vir haar sy’s “die mooiste vrou op aarde” en hoewel hy in Centurion woon en sy op Somerset-Wes, klim hy ’n paar keer per maand op die vliegtuig om te kom kuier. Louis het lankal begin skimp hy wil haar in Junie vra om te trou, maar Esmé verwag vandag niks meer as ’n romantiese okkasie nie. Sy dink nie eens daaraan dat die groot vraag dalk op pad is nie.

Twee uur later kom laai ’n vriendin die volgende kaartjie by Esmé se werk af. Dié keer staan daar: “Vanaand gaan ek lekker kos maak. Sal jy my join vir ete?”

Sy SMS haar kêrel dadelik: “Beslis!”

Nog twee uur later, presies om eenuur, word ’n groot, versierde boks by haar werk afgelaai. Binne-in is ’n splinternuwe swart rokkie en ’n paar hoëhakskoene. “Dis sowaar die regte grootte!” dink sy verbaas en verwonder haar weer aan die oulike man wat sy in Oktober 2008 deur ’n gemeenskaplike vriendin by ’n braai ontmoet het.

Sy maak die nuwe briefie haastig oop, en lag opgewonde toe sy die boodskap sien: “Die mooiste meisie in die heelal het iets moois nodig om aan te trek. Sal jy asseblief dié dra wanneer ek jou vyfuur kom optel?”

Drieuur die middag wonder Esmé skielik of daar dalk nog ’n kaartjie op pad is – sy’t immers al om die ander uur ietsie van Louis gekry. En presies op daardie oomblik biep haar foon: “Good things are worth waiting for!” lui die SMS.

Toe Louis haar by die werk kom oplaai, is Esmé rasend van nuuskierigheid. Sy’t spesiaal haar mooi rokkie en nuwe skoene aangetrek, en sy peper haar geliefde met vrae: “Waarheen gaan ons? Kan ek asseblief gou eers my hare gaan kam?”

Hy glimlag en bring nog ’n kaartjie te voorskyn. Binne-in staan sowaar: “Sal jy asseblief ophou vrae vra?”

Toe die twee uiteindelik voor Esmé se huis op Somerset-Wes stop, gee Louis haar nog ’n kaartjie en ’n blinddoek. “Sal jy asseblief die blinddoek opsit en vyf minute vir my in die kar wag?” lui dit.

Lees meer oor hierdie romatiese paartjie in die 11 Maart-uitgawe van Huisgenoot.