Die pasgebore prins George het gehuil toe hy Woensdag sy oom prins Harry ontmoet.

Die prinsie, die derde troonopvolger, het in trane uitgebars tydens sy eerste ontmoeting Woensdag met sy pa, prins William, se jonger broer in Kensingtonpaleis.

Harry het Donderdag by die opening van die uitstalling The Sentebale: Stories of Hope aan joernaliste gesê die babaseuntjie het “soos alle babas sy oë uitgehuil” toe sy skoonsus, hertogin Catherine, hulle aan mekaar voorstel.

Harry (28) het belowe om sy neef te beskerm, maar ook om seker te maak hy het “pret” en het ook vertel hy het reeds die baba vir die eerste keer “vasgehou en vertroetel”, volgens People.com.

“Dis wonderlik om ’n nuwe toevoeging tot die familie te hê. Ek hoop net my broer weet hoe duur my dienste as ’n baba-oppasser is!”

Die hertog, hertogin en prins van Cambridge het Kensingtonpaleis Woensdagoggend verlaat en bly by Catherine se ouers, Carole en Michael Middleton, in Bucklebury, Berkshire, in die suidooste van Engeland.

Die paartjie se seun, prins George Alexander Louis, is Maandag om 16:24 (Britse tyd) in die St.Mary-hospitaal in Paddington, Londen, gebore en hulle het die volgende dag die hospitaal verlaat.