Die lewe raak ál duurder, en dit raak onmoontlik om te spaar. Dít hoor jy by ma’s oraloor.

Maar dan is daar iemand soos Laura Carrington van Dudley in Engeland. Deur jare lank elke moontlike gratis of spesiale aanbod na te jaag kon sy eindelik soveel spaar dat sy en haar gesin van ’n beknopte woonstelletjie na ’n ruim tweeslaapkamerhuis kon trek. Laura het so al na raming R180 000 gespaar. En dis bloot sedert sy vyf jaar gelede begin rekening hou het van hoe sy huishoudelike uitgawes deur onder meer “extreme couponing” sny.
Sy was nog altyd verstandig oor inkopies. Sy het winskopies uitgesnuffel en haar nie teen handelsmerke blind gestaar nie, vertel Laura in ’n blog. Maar so vyf jaar gelede het sy ook verwoed pasellas begin najaag. Sy het haar spoedig omtrent nêrens begewe sonder haar lêer waarin sy geldspaarkoepons van allerlei aard versamel nie, en weekliks ure lank die internet vir gratis en spesiale aanbiedings gefynkam. Eenkeer het sy binne ’n maand 60 klantetydskrifte van ’n bekende supermark bymekaargemaak om ordentlik voordeel te kon trek uit ’n stewige afslagkoepon daarin. So kon sy so ’n groot voorraad wasgoedversagmiddel opbou dat sy selfs ’n paar bottels aan haar plaaslike voedselbank geskenk het.
“Pasellas jag het gou tot aanlyn kompetisies gelei. Dis nie my hooffokus nie, maar ek het al ’n paar goeie wenslae gehad, soos ’n jaar se toiletpapiervoorraad en ’n voorafgelaaide Visa-kaart waarmee ek ’n hele klomp rekeninge vooruit kon betaal,” vertel Laura. Sy het al soveel gratis blikkieskos versamel danksy byvoorbeeld elektroniese promosiekoepons wat herhaaldelik uitgedruk kan word dat sy ook daarvan aan liefdadigheid kon skenk. Die Crazy Couponing Mom, soos sy haarself ook noem, kon trouens al ’n koskas onder ’n trap tuis en drie vrieskaste met genoeg voorraad vul om haar gesin deur ’n wêreldkatastrofe te help.
Laura skroom ook nie om weekliks met fyn tydsberekening behoorlik munt te slaan wanneer voorste supermarkgroepe pryse van produkte naby aan hul verkoopdatum sny nie. Dié inkopies vries sy dan dadelik vir later. Danksy haar omvattende pasella- en winskoopstrategie “bestee ons maandeliks so min soos £60 (R1 070) aan al ons kruideniersware – en dis vir ’n huishouding van drie en ’n kat,” sê Laura, ma van ’n vyfjarige.

Deur haar Facebook-blaaie (insluitend Coupon Clippers, met honderde foto’s van pasellas), Instagram en haar blogs lewer sy boonop ’n gratis diens aan ander: “Ek geniet dit regtig om my stokperdjie met ander te deel op ’n manier wat hulle regtig op inkopies help bespaar,” sê sy.

Bronne: ukcrazycouponingmom.moonfruit.com, Facebook, dailymail.co.uk, express.co.uk, lifestyle.one, Instagram, Twitter