Brittanje se prinses Eugenie trek vandeesmaand New York toe.

Prinses Eugenie (23), ’n dogter van prins Andrew en kleindogter van koningin Elizabeth II, vlieg binne die volgende paar weke na die Groot Appel. Sy gaan werk by ’n byderwetse afslaer, waarvan die medestigter ’n vriend van prins William is, berig MailOnline.

Sy gaan werk by Paddle 8 in die Soho-distrik vir Alexander Gilkes, die broer van die Londense nagklubbaas Charlie Gilkes.

Alexander en Charlie, wat met Catherine se suster, Pippa Middleton, uitgegaan het, is na die hertog en hertogin van Cambridge se troue in 2011 genooi. Hulle is skoolvriende van prins William.

Intussen het prinses Beatrice glo haar werk in die finansiële sektor bedank sodat sy in die somer ’n wêreldreis kan onderneem. Tog sê haar vriende sy soek ’n ander werk en is ernstig oor haar loopbaan.