Brittanje se oorlede prinses Diana wou hê prins William moet met iemand soos die hertogin Catherine trou.

Die prinses se vertroude vriendin, die handsakontwerper Lana Marks, reken haar oorlede vriendin sou gehou het van haar seun se vrou. Sy wou gehad het hy moes trou met ’n vrou wat haar voete plat op die aarde het, en uit ’n hegte gesin kom.

Lana het aan die Amerikaanse tydskrif Glob gesê: “Kate is absoluut alles wat Diana wou hê. Sy het selfs gesê William se vrou sal donker hare hê. Diana wou iemand plat op die aarde vir William hê, wat uit ’n hegte gesin kom sodat hy ’n gewone gesinslewe kon hê. Sy wou ’n toekomstige koningin van die mense, vir die mense, hê.

“Ek het Diana goed geken in die laaste 18 maande van haar lewe. Sy het in die fynste besonderhede met my bespreek wat sy vir William wou hê wat sy vrou en kinders betref – wat sy vir sy toekoms wou hê.”

Volgens onlangse berigte het prinses Diana ’n geheime bandopname vir haar toekomstige skoondogter en prins William gemaak. Sy het glo vir haar lewe gevrees, en was nie seker of sy daar sou wees om leiding aan haar oudste seun te gee nie. Sy sê glo daarin, “Koester jou kinders vir my . . . laat hulle weet ek is lief vir hulle en pas hulle op . . .”

Toe Lana van die bandopname gehoor het, het sy gesê dit klink presies nes Diana. “Ek ken haar woordkeuse, die wyse waarop sy goed gesê het.”