Prinses Diana se modeontwerper sê dit was moeilik om haar trourok geheim te hou.

David Emanuel het die uitdaging gekry om die ikoniese rok vir die prinses van Wallis se troue met prins Charles in 1981 te ontwerp. Hy onthul nou dit moes in ’n privaat vleuel van Buckingham-paleis vir nuuskierige oë weggesteek word.

David (61) is een van die deelnemers aan I'm A Celebrity . . . Get Me Out Of Here! Hy vertel die rok se sowat 8 m lange sleep het te groot vir sy winkel geword en moes na die paleis verskuif word.

In Sondagaand se aflewering van die ITV-program het hy vertel: “Ek het gesê ons kan nie hierdie lakeie hier hê nie, hulle gaan sien wat aangaan, en ons het belowe om dit geheim te hou.”

’n Toevallige ontmoeting met ’n redakteur van Vogue het daartoe gelei dat hy en sy destydse vrou, Elizabeth, verskeie rokke vir Diana gemaak het voor hulle gevra is om die trourok te ontwerp. Een van hul skeppings was die bekende moulose swart rok wat sy na haar eerste openbare verpligting in die Koninklike Operahuis gedra het.

Hy het gelag en gesê: “Ek het die telefoon in die ateljee beantwoord en sy het gesê: Dis ek.

“Sy het nooit gesê “lady Diana” nie. Ek het altyd gesê: Hallo, ek.

“Sy het gesê: Ek het net gewonder, sal jy my die eer aandoen om my trourok te ontwerp?

“Ek het gedink: Dis sweerlik ’n grap.”