Prinses Diana se laaste brief kan binnekort tot R52 500 op ’n veiling behaal. Die nota, wat geskryf is net twee weke voor haar dood in Augustus 1997 in ’n motorongeluk in Parys, kan ’n goeie prys behaal wanneer die afslaer Fellows van Birmingham dit opveil.

Diana het die roerende brief (gedateer 11 Augustus 1997) geskryf aan Dilys Cheetham, ’n medefilantroop. Dit was nadat hy ’n brief aan haar geskryf het waarin hy gesels het oor haar welsynwerk ten bate van landmynslagoffers.

Dit was ’n saak wat Diana na aan die hart gelê het. In die brief, wat sy net ná haar terugkeer van Bosnië vir soortgelyke werk geskryf het, skryf die prinses dat die besoek haar meer vasbeslote gemaak het om met dié werk voort te gaan.

Dis geskryf op ’n amptelike briefhoof van die Kensington-paleis en is onderteken “Met liefde van Diana”.

Volgens die Daily Express het die fotograaf Jason Fraser die brief bekom nadat Dilys dit laat opgeveil het.

Jason het dit toe in 2007 – die tiende herdenking van Diana se dood – aan ’n privaat versamelaar verkoop.

Die afslaer Mark Huddleston sê: “Die brief is nie net roerend vanweë die opregte boodskap daarin nie, maar ook omdat dit die laaste brief is wat Diana geskryf het.”

“Dit is ’n uiters belangrike geskiedkundige dokument. Prinses Di was wêreldwyd geliefd, en selfs 17 jaar ná haar dood is sy steeds in mense se gedagtes.”

- BangShowbiz