Prinses Diana se selfaangestelde grootste bewonderaars beweer sy het ná haar dood met hulle gekommunikeer.

Ken en Jo Dobsen van Gloucestershire noem hulself Brittanje se grootste Diana-fanatici. Hulle het ’n bewonderaarsklub, Diana Circle UK, ter ere van haar gestig. Hul hele huis is ook versier met foto’s en herdenkings van die oorlede prinses.

Die egpaar sê hulle was bewonderaars van prinses Diana sedert sy in 1981 aan prins Charles verloof geraak en in die openbare oog gekom het. Ná haar dood het hulle besluit om haar nagedagtenis te bewaar.

Jo het aan die Daily Mail gesê: “Daar is altesaam sewe van ons, en ons het begin twee jaar ná Diana se dood. Ons het almal buite Kensington-paleis gestaan en gesê: Hierdie vrou moet nooit vergeet word nie – ons moet haar nagedagtenis bewaar.”

Ken en Jo is selfs in aanraking met Diana se vorige hoofbediende, Paul Burrell. Hulle gesels glo een keer per week met hom.

Die twee glo die oorlede prinses het in die jare ná haar dood met hulle gekommunikeer. Jo sê sy sal nooit vergeet wat een Kersfees gebeur het nie.

“Ons was een jaar by my suster; sy het altyd ’n groot kersboom vir haar kinders. Ek het toevallig opgekyk, en pleks van die fee bo-op die boom, was Diana se gesig daar. Sy het afgekyk en geglimlag. Later het sy dowwer geword en verdwyn. Ons is nie behep met spoke nie, maar ons glo ons het kontak met haar. Mense kan maar sê net wat hulle wil . . .”