’n Sprokiesmooi rok van prinses Diana sal na verwagting volgende maand R1,3 miljoen op ’n veiling haal.

Die oorlede prinses van Wallis het die asemrowende skepping deur David Elizabeth Emanuel, wat ook haar trourok ontwerp het, drie maal gedra. Dié roomkleurige rok was blykbaar een van haar gunstelinge.

Die rok wat met kristalle, pêrelkrale en goue blinkertjies versier is, kom uit die ontwerper se Diaghilev-reeks van 1986. Die inspirasie daarvoor was die skeppings wat Sergi Diaghilev se Russiese balletgeselskap gedra het.

Die Londense afslaer Kerry Taylor sal die eiesoortige rok op 3 Desember opveil en beskryf dit as “waarskynlik een van die sierlikste, mees romantiese van al prinses Diana se rokke”.

Die koninklike, wat in Augustus 1997 in ’n motorongeluk in Parys dood is, het die rok in Julie 1986 die eerste keer gedra, na ’n geleentheid in die Duitse ambassadeur se woning in Londen. Sy het dit in dieselfde maand na ’n Bolsjoi-balletvertoning in die Koninklike Operahuis gedra, en ’n jaar later, in Junie 1987, na die première van die James Bond-rolprent The Living Daylights.

In Maart het Kerry Taylor 10 van Diana se rokke vir R14,2 miljoen opgeveil, onder meer ’n middernagblou Victor Edelstein-skepping vir R4 miljoen.