Graaf Charles Spencer (48) van Brittanje gaan die museum sluit wat hy ter ere van prinses Diana by die familie se landgoed, Althorp, geopen het. Diana is in 1997 in ’n motorongeluk dood. Charles, haar broer, wil haar besittings skenk aan haar seuns, prinse William (30) en Harry (28).

“Dit sal in Augustus 2014 sluit,” het ’n woordvoerder bevestig. “Duisende mense van oor die wêreld het dit al bewonder. Dit was ’n smaakvolle viering van die wyle prinses van Wallis se lewe en prestasies, veral haar liefdadigheidswerk en glansrykheid.”

Die versameling sluit in 28 van Diana se rokke, twee krone en ander kosbare gesinsjuwele, foto’s, briewe en tuisflieks. Die graaf sê Diana het in haar testament gesê hy moet na haar besittings omsien tot albei haar seuns 30 geword het – Harry bereik volgende jaar dié mylpaal – en dit dan aan hulle oorhandig.

Die sluiting van die museum het gissings laat ontstaan dat Diana se klere en ander besittings eindelik uitgestal sal word by Kensington-paleis, waar die prinses ten tyde van haar dood gewoon het en waar William en sy vrou, Catherine (31), gaan woon.