Brittanje se prinses Diana het Oprah om die bos gelei toe sy die kletskoningin ’n ete hoog in kalorieë laat eet het terwyl sy op ’n dieet was.

Die oorlede prinses, wat in 1997 in ’n motorongeluk in Parys gesterf het, het eenkeer jare gelede saam met Oprah gaan eet. Sy het ’n gesonde ete geniet terwyl Oprah, wie se jarelange stryd met haar gewig welbekend is, ’n volvet-mousse bedien is.

Die prinses se voormalige sjef Darren McGrady het onthul: “Hulle het albei tamatie-mousse geëet, en Oprah het ná ’n paar monde vol vir Diana gevra hoe sy so slank bly terwyl sy sulke ryk kos eet. Diana het geantwoord: ‘Ek eet net klein porsies en oefen gereeld.’ ”

Darren het aan die Montecito Journal-joernalis Richard Mineards gesê Diana “het nie die volle waarheid gepraat nie”, en Oprah (60) was onbewus hiervan.

Volgens Darren het Diana vereis dat sy ’n vetvrye mousse bedien word, terwyl Oprah gesmul het aan ’n weergawe propvol mayonnaise, room en suurroom. “Diana het haar nooit die waarheid vertel nie,” voeg hy by.

Tydens haar huwelik met prins Charles het Diana ’n stryd teen bulimie gevoer en dit was onthul in die boek Diana: Her True Story deur Andrew Morton.

Sy het in 1981 met die eetsteuring begin sukkel, en het in die laat 80’s behandeling daarvoor ontvang. Sy het ’n streng dieet begin volg nadat die media oor haar “plomp” voorkoms berig het.