Die tweetjies is Woensdagaand gebore in die Princess Grace-hospitaal?–?wat na hul oorlede ouma, Grace Kelly, genoem is.

Gabriella is twee minute voor haar broer, Jacques, gebore, maar die seun sal eendag heerser van die prinsdom aan die Franse Riviera wees.

Die babas is die eerste tweeling in die koninklike huishouding, wat tot die 13de eeu terugdateer.

Prins Albert (56) het vroeër gesê hy weet nie watter geslag of geslagte die babas sou wees nie.

Charlene (36), ’n voormalige Olimpiese swemmer wat in Zimbabwe gebore is en in Suid-Afrika grootgeword het, is vir die eerste keer ’n ma.

Albert het twee kinders uit vorige verhoudings. Jazmin Grace Grimaldi (22) en Alexandre Coste (10) is albei buite die eg gebore en mag daarom nie die troon bestyg nie.

Monaco het in 2002 sy grondwet gewysig sodat koninklike mag van ’n heersende prins sonder wettige erfgename na sy broers of susters?–Albert het twee susters met wettige erfgename – oorgedra kon word.

Dit sou die voortsetting van die Grimaldi-dinastie, een van die oudste koninklike huise in Europa, verseker ingeval Albert nooit ’n erfgenaam oplewer nie.

Die koninklike paleis het in ’n verklaring gesê 42 kanonskote (21 skote elk vir die babas) sal ter viering van Jacques en Gabriella se geboorte van Fort Antoine gevuur word. Daarna sal die kerkklokke vir 15 minute lui, gevolg deur boothorings wat geblaas sal word.

- Sapa