Monaco se prinses Charlene het Sondag 1 September vir liefdadigheid geswem.

Die gewese Olimpiese swemmer het in Saint Geours de Maremne in Frankryk in die see geswem tydens ’n geleentheid wat deur die klub Inshore Rescue Capbreton gereël is. Daarmee het sy sowat 150 kinders help leer swem en hulle bewus gemaak van hoe gevaarlik die see is.

Charlene se toewyding aan die sport kan gesien word aan haar eie liefdadigheidsorganisasie, Die prinses Charlene-stigting. Sy hoop om daarmee lewens te red en die bewuswording van waterveiligheid op te skerp.

Sy skryf op haar webtuiste: “Ons is almal bewus van die aaklige stories oor kindertjies wat verdrink omdat hulle nie kon swem nie. Om hulle te leer swem kan hul lewe red . . . bewuswording sal hulle gemakliker en meer selfversekerd in alle soorte water help wees.

“My stigting gaan oor kinders wat wonderlike volwassenes kan word. As ons almal saam, met sterk sportwaardes en solidariteit, aan hulle die pad vorentoe wys, kan ons seker maak dat hierdie jong atlete die geleentheid kry om sukses te behaal.”