Die tweeling het hul verjaardag met ’n partytjie by die paleis gevier, nes hul pa vroeër laat val het.

[post-slider]

"Ons het besluit om tuis iets klein te hou met van die kinders in hul dagsorg," het Albert gesê. "Hulle gaan twee, drie keer per week soontoe en het maatjies gemaak. Ons het dus besluit om vroegmiddag ’n partytjie in die paleis te hou."

Klein Jacques en Gabriella het die naweek voor hul verjaardag hulle gate uit geniet met hul ouers by die Kersdorpie in Monaco waar hulle tot pretritte geniet het.

Dit lyk boonop of klein Gabriella, wat net so modieus soos haar ma is, net so versot is op karre soos haar pa!

Albert (58) het vroeër onthul sy tweeling raak al gemakliker tydens uitstappies in die openbaar. "Ons wil albei hê hulle moet so gemaklik as moontlik wees en hul grootwordjare moet so normaal as moontlik wees," het hy aan die glanstydskrif People vertel.

Die twee lyk reeds alte gemaklik en stroopsoet op uitstappies saam met hul ouers. Maar Charlene het vroeër 2016 reeds laat val sy maak reg vir die "terrible two's".

"Ek is vir nou voltyds ma. Ek weet nie vir hoe lank nie. Dit is nogal moeilik in vergelyking met normale mense," het sy aan die Amerikaanse TV-persoonlikheid Mary Hart vertel. "Ons het verantwoordelikhede en pligte en natuurlik word my seun en dogter gebore met die verantwoordelikhede. So dis nogal iets vir my om te aanvaar en hulle te leer," meen Charlene.

Wat die tweeling betref, sê sy, is "hulle baie eenders, maar ook baie anders". Sy verklap ook dat Albert ’n raakvat-pa is wat help doeke omruil. "Dis 'n marathon!" sê sy.

En is die tweeling al bewus hulle is ’n kroonprins en prinses? "Hulle weet dit," vertel Charlene. "Jacques het sy eerste soen op 16 maande gehad met ’n meisie op wie hy beenaf is en Gabriella is net fantasties." Praat van ’n trotse ma!

Bronne: People.com, Ca.hellomagazine.com