Prinses Charlene van Monaco is gereed vir kinders kry.

Die voormalige Olimpiese swemmer het ’n tydperk van “aanpassing” nodig gehad nadat sy in 2011 met prins Albert getroud is en wou tyd inruim om ’n liefdadigheidsorganisasie in haar naam te stig, maar berei haar nou voor op ’n gesinslewe.

Charlene, van wie daar gesê is dat sy twee keer voor haar troue van Albert probeer vlug het, het gesê: “Ek dink ek het ’n bietjie tyd nodig gehad om my tuis te maak en aan te pas. Ek plaas nie druk op myself nie. Dit sal gebeur. As dit gebeur, gebeur dit.

“Ek wou my stigting op die been bring. Ek wou die volgende paar maande reël en dan ’n blaaskans neem. Ons het ’n groot troue gehad. Dit was ’n groot aanpassing daarna. Nou is ek tuis en ek dink kinders sal kom.”

As ’n swemmer het Charlene internasionaal meegeding en medaljes op die Statebondspele en Afrikaspele gewen, maar sy sê die hoogtepunt van haar loopbaan, was haar enigste deelname aan die Olimpiese Spele, in 2000 in Sydney.

Sy het aan die Suid-Afrikaanse Sunday World gesê: “Die hoogtepunt van my loopbaan was die Olimpiese Spele, om daardie stadion binne te stap en te weet ek het ’n droom bereik wat ek al van die ouderdom van agt jaar gehad het.

“Ek het steeds my vriende en ons behou steeds kontak. Dis wat sport jou gee – lewenslange vriendskappe. Dis die waardevolste van alles.”