Prinses Caroline van Monaco se dogter Charlotte Casiraghi verwag glo haar eersteling.

Charlotte is verloof aan die Franse komediant Gad Elmaleh en hul eersteling sal na verwagting voor Kersfees gebore word. Die twee beplan glo om voor dan tydens ’n privaat seremonie af te haak.

’n Bron het aan die tydskrif People gesê: “Hul liefdesverhaal is pragtig en nou is daar ’n baba op pad. Hulle is albei trots.”

Die nuus kom vyf maande nadat Charlotte se broer Andrea (29) en sy verloofde, Tatiana Santo Domingo (29), se eerste kind op 21 Maart gebore is. Andrea en Tatiana sal na verwagting einde vandeesmaand trou.

Charlotte (27), die dogter van Caroline (56) en haar tweede man, wyle Stefano Casiraghi, het Gad in November 2011 by die huis van ’n gemeenskaplike vriend ontmoet. Gad (42) het ’n 12-jarige seun uit ’n vorige verhouding.

Die babanuus is geen verrassing nie, aangesien Charlotte, ’n kampioen-perderuiter, reeds ’n opmerklike boepie gehad het toe sy onlangs in Capri, Italië, vakansie gehou het. Sy is ook opgemerk waar sy in ’n kraamwinkel babakleertjies gekoop het.