Brittanje se prins Charles en sy seun prins William wend ’n poging aan om die onwettige stropery van diere hok te slaan.

Die koninklikes gaan natuurbewaarders en politici in St. James-paleis in Londen bymekaarbring om ’n oplossing vir dié voortslepende misdaad te kry.

Charles, wat ’n groot kampvegter vir die natuur is, het onlangs aan aktiviste in die Kew-tuin in Londen gesê: “Een gebied wat my en albei my seuns veral bekommer, is die onwettige stropery van diere en die gevolglike handel in diereprodukte . . . ons het’n gevaarlike krisispunt bereik en . . . met diepgaande gevolge vir lewensbelangrike habitatte en eko-stelsels, waarop ons almal staatmaak.

“Daarom het ek my Wêreld-volhoubaarheidseenheid gevra om dié vraagstuk te ondersoek en gaan ek en my oudste seun in Mei ’n wêreld-saamtrek aanbied. Daardeur, hoop ek, kan ons help soek na oplossings vir hierdie oënskynlik hardnekkige probleem.”

Prins William, 30, ondersteun nes sy pa natuurbewaring en is die koninklike beskermheer van die bewaringsorganisasie Tusk Trust.