Die hertog van Cambridge gaan volgende jaar aansluit by die Oos-Anglia-lugambulansdiens en gaan gedurende die dag en nag vlieg. Dit gaan sy hoofwerk word, al gaan hy steeds verpligtinge namens sy ouma koningin Elizabeth II.

“Die hertog beskou dit as ’n ware vorm van openbare diens; om mense in moeilike situasies te help,” het ’n woordvoerder van die Kensington-paleis gesê.

“Hy beskou sy soek-en-reddingswerk met die lugmag as ’n uitsonderlike voorreg en die hertog wou sy eie bydrae aan die lugambulansdiens se uitstekende werk maak.”

William was ’n soek-en-reddingsvlieënier in Anglesey, maar het die werk in September verlede jaar ná drie jaar verlaat.

Hy gaan met sy nuwe werk by die Cambridge-lughawe gebaseer wees en gaan onder meer Cambridgeshire, Norfolk, Suffolk en Bedfordshire bedien. Al gaan William ’n salaris verdien, gaan hy alles vir liefdadigheid skenk. Sy opleiding gaan sowat vyf maande duur en gaan in September begin.

“Ons is verheug dat Sy Hoogheid besluit het om by ons aan te sluit,” het Patrick Peal, die hoof van Oos-Anglia-lugambulansdiens, gesê.

“Ons vertrou sy hulp gaan die profiel verhoog van die liefdadigheid en dié van ander lugambulansdienste in die gebied en oor die Verenigde Koninkryk.”

William, sy vrou, die hertogin van Cambridge (32), en hul seun, prins George (1), gaan hoofsaaklik by hul landgoed Anmer Hall naby Sandringham in Norfolk woon.

“Hulle gaan in Norfolk woon en elke af en toe Londen toe kom, eerder as in Londen woon en naweke in Norfolk deurbring,” het iemand in die binnekring aan People gesê.

© Cover Media