Brittanje se prins William wil prins George en die hertogin van Cambridge op besoek na Afrika neem.

Prins William (31) wil sy seun, prins George, en sy vrou, Catherine, binnekort op besoek Afrika toe bring. Hy wil hê sy seun, wat in Julie gebore is, moet die skoonheid van die vasteland ervaar.

Hy het gesê moontlike uitwissing is erg vir kinders wat in die Weste grootword en dalk nooit renosters in nuwe dokumentêre programme sal sien nie “. . . of selfs vir my eie, liewe George, wat ek en Catherine hoop om, wanneer die tyd reg is, voor te stel aan Oos-Afrika, ’n plek wat ons ken en liefhet.”

Die hertog en hertogin van Cambridge het Vrydagaand die Tusk Trust-prysuitdeling in Londen bygewoon. Die was die eerste amptelike geleentheid wat die egpaar bygewoon het ná die geboorte van hul seun, prins George.

Charlie Mayhew, ’n medestigter van die liefdadigheid, het gesê: “Die hertog en hertogin van Cambridge het so ’n invloed op Tusk en die bewaringswêreld in die algemeen gehad. ’n Mens kan jou net voorstel watter verskil hy en die hertogin sal maak noudat die prins meer op bewaring, een van sy passies, wil konsentreer.”

Prins William het verlede week aangekondig hy gaan die gewapende magte verlaat om hom op ampspligte toe te spits en meer tyd saam met sy gesin deur te bring.