Die oudste van haar twee kinders het in ’n roerende toespraak by die 21ste herdenkingsete vir British Child Bereavement Donderdag hulde aan sy ma gebring. Diana, wat 36 ten tyde van haar dood was, het dié liefdadigheidsorganisasie ondersteun en haar seun het die nalatenskap voortgesit.

E! Online het berig William (33) het in sy toespraak aan die gehoor gesê hy wil ’n liefdadigheidsorganisasie na aan sy ma se hart ondersteun en gesê hy’s opgewonde om haar “verbintenis tot liefdadigheid” voort te sit.

Die pa van twee het ook in sy toespraak oor hartseer gepraat en vertel wat hy ná Diana se tragiese dood in 1997 deurgemaak het. Hy’t gesê verdriet is die mees intense emosie wat ’n kind of ouers kan ervaar en gesê sy ma het dit haar lewensdoel gemaak om diegene in pyn te help en dis wat hy ook beplan om te doen.

William het gesê hy’s ongelooflik trots op die organisasie se prestasies en het hulle geloof vir die “warmte” en “troos” wat hulle in moeilike tye aan kinders en ouers bied.

“Dit was verlede maand 21 jaar sedert my ma die bekendstelling van die Child Bereavement-liefdadigheidsorganisasie bygewoon het. Vyftien jaar later voel ek geëerd om genooi te word om as beskermheer van Child Bereavement UK my ma se verbintenis tot liefdadigheid, wat my baie na aan die hart lê, voort te sit.

“My ma het destyds besef – en ek begryp dit nou – dat hartseer die pynlikste ervaring is wat enige kind of ouer kan verduur.”

Ná die geboorte van sy tweede kind in Mei het die koninklike paartjie haar prinses Charlotte Elizabeth Diana gedoop. Die prinses is in Julie by dieselfde plek gedoop as William se ma.

Prinses Diana, en Dodi Fayed – glo haar kêrel – is in Augustus 1997 in ’n motorongeluk dood.

Bronne: Mirror.co.uk, News.com.au