Brittanje se prins William gaan die lugmag verlaat.

Prins William (31), die tweede Britse troonopvolger, het aangekondig hy gaan die lugmag ná sewe jaar verlaat. Hy en sy vrou, die hertogin van Cambridge, gaan hulle toespits op hul koninklike pligte.

Die hertog van Cambridge se laaste skof as soek-en-reddingsvlieënier  van die koninklike lugmag was Dinsdag.

’n Woordvoerder vir Kensington-paleis het bevestig: “Hy gaan sy werk in die bewaring van veral bedreigde spesies uitbrei.

“Die hertog sal sy liefdadigheidswerk voortsit met kinders en jong mense, veterane en dienende lede van die gewapende magte.”

Volgens die BBC sal volgende jaar ’n oorskakeling in prins William se lewe wees. Hy sal meer amptelike geleenthede in Brittanje en die buiteland bywoon. In die komende maande sal hy nou saamwerk met Catherine en sy kleinboet, prins Harry.