Brittanje se hertogin Catherine het op hul Australiese toer ’n Cartier-horlosie van sowat R63 000 gedra, ’n vroeë geskenk van prins William vir hul huweliksherdenking.

Brittanje se prins William het vir hertogin Catherine ’n horlosie van sowat R63 000 gekoop as ’n vroeë geskenk vir hul huweliksherdenking.

Die hertogin, wat voor haar troue met die prins op 29 April 2011 as Kate Middleton bekendgestaan het, het die Ballon Bleu de Cartier-horlosie voor die paartjie se toer gekry, en het dit elke dag op hul drie weke lange toer van Australië en Nieu-Seeland gedra.

Daar is ’n saffier in die horlosie van vlekvrye staal wat pas by haar verloofring. Catherine, wat ’n nege maande oue seun, George, by William het, is glo versot op die geskenk.

Dit blyk William het die geskenk versigtig oorweeg; die horlosie moet Catherine glo van die tyd bewus maak omdat sy graag tydens uitstappies met mense gesels en haar man gereeld laat wag.

Cartier is een van die koninklike gesin se gunstelinghandelsmerke; een van William se kosbaarste besittings is ’n gegraveerde horlosie wat hy by sy ma, wyle prinses Diana, as ’n verjaardaggeskenk gekry het. Die prinses het self gereeld ’n Cartier-horlosie van geelgoud gedra.

Die horlosie is nie al geskenk wat Catherine op die toer gedra het nie; sy is ook gesien met ’n “elegante dog onopvallende” diamant-ewigheidsring, wat die prins haar glo ná George se geboorte gegee het.