Prins William en sy vrou, Catherine, gebruik ’n koeëlvaste Bentley van R4 miljoen wanneer hulle amptelike geleenthede bywoon.

[post-slider]

Brittanje se prins William en sy vrou, Catherine, gebruik ’n koeëlvaste Bentley vir ampsgeleenthede.

Die luukse motor van R4 miljoen, genaamd The Flying Spur, is een van die wêreld se vinnigste sedanmotors. Dit kan ’n topsnelheid van 320 km/h bereik.

’n Woordvoerder van Kensington-paleis het aan die Daily Mail gesê: “Die hertog en hertogin van Cambridge en prins Harry huur die motor vir amptelike geleenthede.”

Die egpaar is verlede week die eerste keer in die Bentley afgeneem terwyl hulle opdaag het vir ’n onthaal by die Museum vir Natuurwetenskap in Londen.

Die motor het koeëlvaste vensters en het supersterk staal.

Dit kos amper R1 900 om die brandstoftenk te vul. Die egpaar het gekwilte leersitplekke gekies wat verhit kan word en ’n masseerfunksie het.

Die koningsgesin huur gereeld motors. Bentley het ’n limosien aan die koningin geskenk vir die viering van haar goue herdenkingsjaar in 2002.

Die hertogdom van Cornwall, wat betaal vir die amptelike werk van prins Charles en sy gesin, dra die onkoste van die Bentley.

Prins William en Catherine gebruik ook glo ’n Jaguar vir minder belangrike geleenthede en het ’n vloot Range Rovers waarmee prins Harry ook soms ry.