Sy het Maandag ’n amptelike verskyning gekanselleer omdat sy aan hyperemesis gravidarum ly, dieselfde toestand wat haar in 2012 met haar swangerskap met prins George hospitaal toe gestuur het. William het die openbare geleentheid in Oxford sonder haar bygewoon en het aan verslaggewers gesê: “Die afgelope paar dae was moeilik, maar ons is natuurlik uiters opgewonde; dit is wonderlike nuus.”
'Ek hoop alles sal rustiger word en sy voel ’n bietjie beter.'

Hy het gesê dit is “nog vroeg, maar ek hoop alles sal rustiger word en sy voel ’n bietjie beter.” Hy het bygevoeg: “Ek gaan nou huis toe om na haar om te sien.”

Dokters behandel Catherine (32) by die Kensington-paleis, waar sy en William ’n woonstel deel.

Die swangerskap is Maandag in ’n amptelike verklaring van die paleis bekendgemaak, wat genoem het koningin Elizabeth II, William se ouma, is “gelukkig” oor die nuus.

Die aankondiging het oor die wêreld heen nuus gemaak, wat ’n weerspieëling is van William en Catherine se sterstatus.

Die geboorte van hul eerste kind, prins George Alexander Louis, op 22 Julie 2013, het ’n mediasirkus veroorsaak en boodskappe van welwillendheid het van alle uithoeke van die wêreld ingestroom.

Maandag het die BBC se 24-uur-nuuskanaal die Britse premier, David Cameron, sê toespraak aan die parlement oor verlede week se Navo-beraad laat vaar om William se verskyning lewendig uit te saai.

Maar die prins het gevra vir perspektief. “Dit is belangrik dat ons almal op die groot nuus fokus; op die groot internasionale en plaaslike sake wat tans aan die gang is. Dit is waaraan ek dink,” het William gesê. Prins George is die derde troonopvolger en sy nuwe broer of suster sal die vierde troonopvolger wees; William se broer, prins Harry, sal dan die vyfde wees.

'Ek kan nie wag om my broer nog te sien ly nie.'

Harry het grappend gesê dit is “wonderlik” dat sy kans om koning te word nou kleiner is.

“Ek kan nie wag om my broer nog te sien ly nie,” het hy gesê, en het bygevoeg hy wil graag sien hoe William ’n dogter sou hanteer.

“Ek dink George gaan in die wolke wees. Ek dink hy gaan verheug wees oor ’n jonger boetie of sussie,” het die prins gesê.

William en Catherine het geen geheim daarvan gemaak nie dat hulle nog ’n kind wil hê; in adellike families is dit gebruiklik om minstens twee kinders te hê – ’n erfgenaam en nog ’n kind wat die titel en boedel kan erf ingeval die erfgenaam sterf.

“Ek hoop dis ’n meisie,” het ’n vrou buite die Kensington-paleis aan AFP gesê. “ ’n Erfgenaam en ’n reserwe! Hulle kan nou ontspan, of hoe?”

Beroepswedders

Britse beroepswedders het gesê die aankondiging het ’n stortvloed weddenskappe oor die baba se naam en geslag laat invloei.

Coral het gesê 70 persent van weddenskappe is dat die baba ’n seun is, en James, Alexander en Louis is die gewildste name.

Elizabeth, Diana en Victoria was die gewildste name vir as dit ’n meisie is.

Die beroepswedders Ladbrokes bied ’n kans van 20-1 dat Catherine aan ’n tweeling die lewe skenk.

Die erns van Catherine se oggendnaarheid laat mense wonder of sy reg gaan wees vir haar eerste amptelike oorsese reis alleen; sy is veronderstel om Malta op 21 en 22 September te besoek.

Sy moet die koningin daar verteenwoordig vir die Mediterreense eiland se 50ste herdenking van hul onafhanklikheid van Brittanje.

’n Woordvoerder van die Kensington-paleis het gesê die hertogin se planne sal nie vêr vooruit bepaal word nie.